Nuwe begraafplaas in Ermelo bied waardigheid vir almal

'n Unieke aspek van die landgoed, wat volgens hom nie algemeen is nie, is die toevoeging van 'n troeteldierbegraafplaas.

Agter Elbin Begrafnislandgoed, 5 km buite die dorp op die Amersfoort-pad, staan Eben Kühn, wat vyf jaar lank beplan het om hierdie begraafplaas tot stand te bring.

Die begraafplaas bied ‘n dringende oplossing vir ‘n gemeenskap wat al lank onder verwaarloosde kerkhowe gebuk gaan. Twee mense is reeds hiér begrawe.

Kühn sê hy het die behoefte vir ‘n nuwe begraafplaas gesien, aangesien die bestaande kerkhowe in verskeie gemeenskappe en dorpe verwaarloos is.

Hy sê die grafte word dikwels deur rondloperbeeste vertrap, die grafstene word deur vandale beskadig en die gedenkplaatjies word verwyder en as skrootmetaal verkoop.

“Selde bied hierdie kerkhowe ‘n respekvolle herinnering aan diegene wat daar begrawe is. Mense moet ‘n finale rusplek hê waar toesig, onderhoud en waardigheid die eerste prioriteit is.”

Juis daarom, sê Kühn, is Elbin Begrafnislandgoed gestig.

“Ons bied nie net ons dienste en begraafplaas aan die mense van Ermelo nie, maar vir alle dorpe in die Hoëveldstreek, selfs so ver as Newcastle.”

Elbin Begrafnislandgoed se geriewe sluit ‘n kapel met sitplekke vir 150 mense in. Foto | Wayne van der Walt

Die begraafplaas strek oor 20 ha, en volgens Kühn bied dit tans begrafnisopsies vir 6 vt.- (enkel) grafte, asook 8 vt.- (dubbel) grafte vir geliefdes wat moontlik saam begrawe wil word.

By die aankoop van ‘n graf word ‘n kopsteen ingesluit.

Elbin Begrafnislandgoed bied ’n alles-in-een-oplossing vir bedroefde families waar alles op die perseel gedoen kan word.

Die fasiliteite sluit ‘n kapel in met sitplekke vir 150 mense, projekteerders, klankstelsels, badkamergeriewe, binnenshuise spyseniering, asook verassingsnisse en privaat familie-landgoed.

Die begraafplaas is oop vir almal ongeag tradisies, ras, kulturele of godsdienstige agtergronde.

“Die ligging van die begraafplaas is ook ideaal, omdat daar nie ‘n toeloop van mense in die area is nie, wat dit ‘n stil en respekvolle begraafplaas maak waar geliefdes hul laaste eerbetoning kan bring,” voeg Kühn by.

Die terrein is omhein, en sekuriteitswagte is 24/7 op die perseel aan diens.

‘n Unieke aspek van die landgoed, wat volgens hom nie algemeen is nie, is die toevoeging van ‘n troeteldierbegraafplaas.

Mense het die opsie om die as van hul diere in nisse met ‘n gedenkplaatjie van hul troeteldier te stoor.

Die laaste rusplek vir geliefdes is mooi afgesonder en bied aan die gemeenskap ‘n plek waar hulle hul laaste eer kan betoon. Foto | Wayne van der Walt.

“Hierdie opsie het meer gewild geword weens die koste wat gepaardgaan met die begrawing van troeteldiere of alternatiewe metodes wat deur die plaaslike owerheid gebied word,” het Kühn gesê.

Hy sê dat die troeteldierbegraafplaas egter ‘n respekvolle afstand van die hoofbegraafplaas geleë is.

“‘n Persoon wat gesterf het en wie se buurman se hond hom die hele nag wakker gehou het, wil sekerlik nie langs dié hond begrawe word sodat hy hom selfs verder in die dood kan steur nie.”

Kühn sê dat mense nie werklik meer begraafplase besoek nie, en skryf dit onder andere toe aan veiligheidsaspekte en die gebrek aan instandhouding.

Elbin Begrafnislandgoed. Foto | Wayne van der Walt

“By Elbin Begrafnislandgoed wil ons aan die mense die geleentheid bied om ‘n geskikte begraafplaas te hê waar families met trots hul geliefdes kan besoek sonder om bekommerd te wees oor vandale, verwaarlosing of onveilige omstandighede.”

Volgens hom het die proses om te kom waar hulle tans is baie tyd en moeite geverg.

Daar is aan alle vereistes voldoen, en impakstudies is gedoen, wat ook die geologiese toetse van die grond insluit om te verseker dat die grond geskik is en dat die dreinering aan vereistes voldoen.

“Ek glo met groot sekerheid in my hart dat al die moeite die moeite werd was, as ons dink aan die behoeftes van die gemeenskap en hoe ons ‘n plek kon skep waar die waardigheid van mense behoue sal bly,” het hy afgesluit.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version