Local news

Ermelo-seun (4) met vlak 2-kanker gediagnoseer

AJ is op 29 Mei geopereer, maar 10% van die gewas kon nie verwyder word nie.

Klein AJ Stoop (4) is onlangs met vlak 2-ependimoomkanker gediagoseer en benodig vyf weke se bestraling om die gewas te verwyder.

Volgens sy ma, Tanya-Lee, het hy skielik erg begin braak.

“AJ het vir sowat ‘n paar weke gereeld begin kla van ‘n pyn in sy nek. Dié pyne het elke keer veroorsaak dat hy begin braak,” het sy gesê.

Hy is dokter toe en is in die Ermelo Mediclinic opgeneem, maar die behandeling het nie gewerk nie.

Dr. Johan van der Poel het besluit om AJ na die gesin se pediater, dr. Diederik Johannes Bisset in Middelburg, oor te plaas.

Tanya-Lee, Basil, AJ, Haylee en HJ Stoop. Foto | Verskaf/Tanya-Lee Stoop

Hier het hy antibiotika ontvang, wat dadelik gehelp het, en daar was geen verdere vermoedens dat daar dalk iets ernstiger fout mag wees nie.

Sowat ‘n week later het hy weer die pyne en braking ervaar, en Tanya-Lee het dadelik hul pediater gekontak. Bisset het AJ vir ‘n CT-skandering gestuur, omdat hulle vermoed het dat die kleinding dalk migraines kry.

“Volgens die dokter is dit nie iets wat sommer by kinders voorkom nie, maar dit is nie onmoontlik nie, en hy wou seker maak dat dit nie dít is nie.”

Een van die susters wat die skandering gedoen het, het hulle kom inlig dat hulle iets daarop gesien het, en dat hulle AJ graag vir ‘n MRI-skandering wil stuur.

Tanya-Lee sê hulle was skaars op pad na die volgende skanderings toe haar foon lui en ‘n vrou haar inlig dat Bisset hulle wil sien en dat al die skanderings by hom is.

“Aangekom by sy spreekkamers het hy ons ingelig dat dit lyk of daar ‘n gewas op AJ se brein is en dat hy reeds met ‘n neurochirurg by Unitas Hospitaal gesels het, en dat AJ Vrydag [24 Mei] daar moet wees.”

Op dié dag is die gesin na Unitas waar AJ in die gewone kindersaal opgeneem is om ‘n MRI-skandering te kry. Daarna is hy na die pediatriese intensiewesorgeenheid oorgeplaas.

Tanya-Lee en haar man, Basil, was dadelik bekommerd oor die skielike skuif.

By verdere navrae hieroor is die paartjie ingelig dat AJ se gewas so groot soos ‘n tennisbal is en dat daar baie vog op sy brein is.

“Die chirurg het ons vertel dat hy nie enige kanse met die hoeveelheid vog op sy brein nie wil neem, want dit kan septiese skok veroorsaak.”

Dieselfde middag is daar ‘n tydelik dreineringspypie in sy brein geplaas.

Klein AJ Stoop. Foto | Verskaf/Tanya-Lee Stoop

AJ is op 29 Mei geopereer om die gewas te verwyder. Dié operasie het sowat ses en ‘n halwe uur lank geduur.

Net na 14:00 is hy uit die teater, en die dokter het die gesin ingelig dat hulle sowat 10% van die gewas nie kon verwyder nie, omdat dit aan sy breinstam vasgegroei het.

Hy moet binnekort vyf weke se bestraling in Randburg ondergaan.

Dit kan hom vanaf ses weke tot etlike maande neem om terug na normaal te gaan, maar sy wil graag AJ na die bestraling ook na ‘n arbeidsterapeut neem om hom te help herstel.

AJ Stoop. Foto | Verskaf/Tanya-Lee Stoop

Die gesin is besig om geld in te samel om die bestraling en al die ander uitgawes vir AJ se behandeling te kan bekostig.

Indien enigiemand ‘n bydrae wil maak, kan hul die volgende rekening gebruik: AJ Stoop; FNB-takkode 270344, spaarrekeningnommer 63108195751.

Lees die volledige berig in Hoëvelder.

Related Articles

 
Back to top button