Local news

Ermelo-vrou deel haar kragtige storie van hoop na mishandeling

Sonder haar vertroue in God glo sy nie dat sy uit die situasie kon kom nie.

ERMELO – ‘n Inwoner het onlangs haar storie van mishandeling gedeel om sodoende ander vroue te bemoedig en hulle hoop vir die toekoms te gee.

Mishandeling en vernedering in haar verhouding

Sy het vertel dat sy vir baie lank in ‘n verhouding was waar haar ‘normaal’ uit finansiële, fisiese en verbale mishandeling bestaan het.

“Ek was nooit goed genoeg vir hom nie. Daar is op my verneuk met die verskoning dat ek oorgewig was. Sodra ek gewig verloor het, was ek té maer gewees. My haarkleur het ek verskeie kere verander om hom gelukkig te hou, maar niks was ooit goed genoeg nie,” het sy gesê.

Haar grootste uitdaging was om alles stil te hou en voor te gee dat daar geen fout is nie, om merke weg te steek en vir elke merk ‘n verskoning uit
te dink.

Gesigsverlamming en emosionele struwelinge

Na die geboorte van haar dogter is sy met Bell-paralise, oftewel gesigsverlamming, gediagnoseer.

Om daagliks op te staan en te sien hoe sy anders lyk, pille te drink wat haar siek maak en iemand te hê wat haar vertel hoe lelik haar gesig lyk omdat dit hang, het haar laat voel dat sy in ‘n nagmerrie vasgevang is.

“Ek het vir baie lank vasgebyt omdat ek geglo het dit sou verander.”

Sy het uiteindelik besluit om weg te stap en oor te begin met bykans niks behalwe haar klere nie.

Dis egter nie ‘n besluit wat sy net eenkeer gemaak het nie, want sy het verskeie kere teruggegaan omdat sy haarself oortuig het dat dinge sou beter word.

’n Ermelo-vrou hoop dat haar storie ander sal help wat hulself in dieselfde situasie bevind.

Die besluit om weg te breek en haarself te vergewe

“Om finaal weg te breek en ‘n beter lewe vir myself te kies, was seker een van die moeilikste dinge wat ek nog moes deurgaan.” Sy moes leer om haarself te vergewe.

Sy het vertel dat sy haarself toegelaat het om deur al die emosies te werk, en te rou oor die besluite wat sy geneem het en die dinge wat sy nie stopgesit het nie.

Vir haar was die eerste drie maande die ergste en moes sy haarself daagliks herinner aan hoekom sy die besluit geneem het en wat haar doelwitte vir haar lewe is.

“Die Here het my die krag gegee om baie dinge te oorkom, maar Hy het my ook beskerm wanneer ek dit die nodigste gehad het.”

Sonder haar vertroue in die Here glo sy nie dat sy haarself ooit uit die situasie kon verwyder nie.

Motivering en ondersteuning

“My dogtertjie was my grootste motivering. Elke keer as ek na haar gekyk het, het ek besef ek wil vir haar ‘n voorbeeld wees van hoe ‘n vrou met respek behandel moet word en van die tipe verhouding waarna sy eendag moet smag.”

Danksy haar ouers en broers se ondersteuning, kon sy lang ure werk met die wete dat daar na haar kind omgesien word.

Dit het verskeie mense se bystand en motivering geneem om haar deur van die moeilikste dae in haar lewe te help.

Lees die volledige berig in vandeesweek se Hoëvelder.

You can read the full story on our App. Download it here.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button