Ermelo polisie ondersoek skietgeval op die dorp

'n Skoot het skielik uit 'n ander rigting geklap en die jong man het besef dat die skoot vanuit ’n geparkeerde Audi voertuig afgevuur is.

ERMELO – ’n Man en sy seun was op 7 Maart omstreeks 11:00 in ’n skietgeval betrokke nadat hulle ’n onderneming op die hoek van Voortrekker- en Kleinhansstraat besoek het.

Volgens kaptein Carla Prinsloo, woordvoerder vir Ermelo polisie, was die twee in die onderneming besig, toe hulle voertuig se alarm afgegaan het.

Die seun het gaan ondersoek instel en by die deur van die onderneming gestaan om te sien wat gebeur.

“Hy het ‘n vreemde man binne in die bakkie opgemerk. Die man was besig om in die bakkie rond te soek. Die klaer se seun het sy vuurwapen gespan en wou die verdagte in die bakkie konfronteer,” het Prinsloo gesê.

Skielik het ‘n skoot uit ‘n ander rigting geklap en die jong man het besef dat die skoot vanuit ’n geparkeerde Audi voertuig afgevuur is.

Hy het toe ‘n waarskuwingskoot afgevuur.

Die man in die bakkie asook nog ‘n verdagte het in die Audi gespring en weggejaag.

Prinsloo het gesê dat daar drie verdagtes op die toneel was – die een het in die voertuig gewag, die ander een was op die uitkyk, terwyl die derde verdagte by die voertuig ingebreek het.

Sy het motoriste aangemoedig om nie waardevolle items, hetsy geld, vuurwapens, skootrekenaars ens. in hul voertuie te los nie.

Exit mobile version