FKN Army maak SAVF Ermelo se las minder net so voor Kersfees

Namens die vrywilligerspan wil die SAVF die FKN Army hartlik bedank, asook die plaaslike sakelui en ander rolspelers deurdie jaar.

ERMELO – Die SAVF Huis Ermelo se vrywilligers en personeel het op Donderdagaand 7 Desember ‘n Kerssangdiens vir hulle inwoners aangebied.

Ds. Schalk Zastron het met Skriflesing en gebed geopen. Daarna het Sonja Kirk, ‘n vrywilliger, die inwoners met besonderse nuus verras.

Die FKN Army het R200 000 aan SAVF Huis Ermelo geskenk.

Dié organisasie se hoofdoelwit is om die lewens van sy lede te verbeter, om mense se drome te verwesenlik en ‘n positiewe impak op die samelewing te maak.

FKN Army is deur Malcolm en Kiki Wentzel gestig. Hulle is ook bekend vir hul onlangse verskyning op die kykNET-televisiereeks, Die Real Housewives van Pretoria.

George Kleinhans, Sonja Kirk en Malcolm en Kiki Wentzel van die FKN Army.
Foto | Verskaf/Sonja Kirk

Daar is egter ‘n voorwaarde aan die skenking: dit mag nie vir instandhouding aangewend word nie.

“Ek gaan betrokke wees met die aanwending van die fondse en gereelde terugvoering, tesame met foto’s wat op sosiale media geplaas gaan word en aan die FKN Army verskaf sal word,” sê Kirk.

Die fondse gaan aan die volgende: eierboksmatrasse, treklakens, plastiekoor-treksels vir onder die lakens, ringkussings, gewone kussings, gemakstoele, ‘n suurstofmasjien, sekuriteitskameras, solarligte, beddens en matrasse.

Namens die vrywilligerspan wil die SAVF die FKN Army hartlik bedank, asook die plaaslike sakelui en ander rolspelers deurdie jaar.

“Dit is nie net geluk wat ons dankbaar maak nie, dit is dankbaarheid. Om agter die skerms te werk en om vir enige persoon te vra om ons te ondersteun, is nie altyd so maklik nie, maar met ‘n opregte, dankbare hart kan ek vandag dankie sê,” sluit Kirk af.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version