Ek sal dit nie los nie: VF+ raadslid oor munisipale krisis op Ermelo

Die Ermelo-gemeenskap is ernstig bekommerd oor hul gesondheid en die nadelige effek op die plaaslike ekostelsel

ERMELO – Die VF Plus-raadslid, Shobie Arnoldi, dring daarop aan dat hy nie vir die Msukaligwa Plaaslike Owerheid sal terugstaan nie.

Op 7 September het hy ‘n formele klag by die polisie ingedien aangaande die voortdurende rioolbesoedeling van waterbronne in die munisipale gebied.

Arnoldi het na bewering aanvan-klik gesukkel om ‘n saaknommer te verkry. Hy sê daar is aan hom gesê dat die saak na Pretoria gestuur moes word en dat iemand dit in Ermelo sou kom afhaal.

“Niemand kon verduidelik waarom dit soontoe moes gaan nie, aangesien dit ‘n provinsiale kwessie is en dit dus nie sin maak nie.”

‘n Maand ná die indiening van die klag was die dossier steeds in Ermelo. Arnoldi het intussen uitgevind dat die polisie wel nou die dossier na die korrekte provinsiale afdeling gestuur het.

LEES OOK: VF+ raadslid dien klag by polisie in oor Ermelo se besoedelde waterbronne

Hy het sy oortuiging uitgespreek dat die munisipaliteit moeite sal doen om die saak te vertraag en te laat uitstel in ‘n poging om hom te ontmoedig.

Hy het egter voet by stuk gehou: “Ek sal dit nie los nie!”

Die klag is ingedien teen beide Maqhawe Kunene, die munisipale bestuurder van Msukaligwa, en Precious Zodwa Duma, die direkteur van tegniese dienste, onder wie se departement rioolsuiwering val.

Die Ermelo-gemeenskap is ernstig bekommerd oor hul gesondheid en die nadelige effek op die plaaslike ekostelsel weens onbehandelde riool wat vanaf rioolpype en verstopte dreine na ‘n plaaslike vleiland vloei.

LEES OOK: High court orders Msukaligwa to address water pollution crisis

Hierdie vleiland voed die Petdam, en die oorloop hiervan sluit by die Kleindrinkwaterstroom aan, wat uiteindelik in die reeds hoogs besoedelde Vaalrivier beland.

Hoëvelder het navrae aan die munisipale woordvoerder, Mandla Zwane, gerig en wag op ‘n antwoord rakende die vordering sedert die hofbevel uitgereik is.

Lees die volledige berig in vandeesweek se Hoëvelder.

Exit mobile version