Man gebruik storie oor ouma wat kanker het om mense te bedrieg

Volgens die vriendin het hy na sy besoek aan Hoëvelder haar van die storie wat hy opgemaak het vertel.

Hierdie week se voorblad het berig oor Wynand Broodryk wat worsbroodjies loop en verkoop om vir sy ouma se kankerbehandeling te betaal.

Broodryk het aanvanklik beweer dat hy en sy ‘niggie’ saam die worsbroodjies verkoop om die geld in te samel.

Vanmiddag het sy ‘niggie’ egter by Hoëvelder se kantoor opgedaag met ’n swaar gemoed en navraag gedoen oor die berig.

Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, sê sy is nie Broodryk se niggie nie, maar ’n vriendin.

Sy sê dat hulle mekaar maar onlangs eers ontmoet het, waarna Broodryk aan haar genoem dat hy worsbroodjies gaan verkoop as ’n bron van inkomste, en dat hy haar R3 sal gee vir elkeen wat sy verkoop.

Die vriendin sê sy het ingestem en hulle het die worsbroodjies op die hoek van Kerk- en Jansenstraat verkoop.

Nadat die verkope nie na wense gegaan het nie, het hy by Hoëvelder se kantoor opgedaag en aan die joernalis vertel dat hy ’n advertensie in die koerant wil plaas om mense te vra om hom te ondersteun, en dat hy geld vir sy ouma met kanker wil insamel.

Sy sê sy het hom gewaarsku om dit nie te doen nie en ook om haar naam en kontakbesonderhede uit die berig te hou.

Broodryk het egter met die storie volgehou en die joernalis ingelig dat sy “niggie se foon gesteel is, en dat hulle eerder haar besonderhede uit die berig moet verwyder.”

Sy het besluit om die koerant se kantoor te besoek en die joernalis mee te deel van Broodryk se opmaakstorie.

Die koerant het hom gekontak om die kantoor te besoek, en hy is gekonfronteer met die nuwe inligting wat na vore gekom het.

Hy het eers volgehou met die storie oor sy ouma wat kanker het, maar het toe erken dat hy dit opgemaak het.

Exit mobile version