Local news

Ligbron Akademie vir Tegnologie spog met eersteklas groentetonnel

In die tonnel, is daar spinasie, slaaikoppe, kruie, beet wortels, broccoli, blomkool en kool, wat deur die koshuise verwerk word.

Ligbron Akademie vir Tegnologie het onlangs ‘n inspirerende inisiatief geloods wat nie net selfvoor-siening bevorder nie, maar ook die gemeenskap nader aan die skool bring.

Ligbron het ‘n groentetonnel op die skoolterrein opgerig.

Die doel hiervan is om vars groente vir die koshuis te produseer.

Die projek het ontstaan toe die ouers genader is en ‘n beroep op gemeenskapslede gedoen het om te help. Hierdie oproep is met ope arms ontvang, en die gemeenskap het met hul finansiële bydrae die tonnel laat oprig.

“Die skool is dankbaar vir hierdie onbaatsugtige gebaar. Ons is vasbeslote om die tonnel optimaal te benut,” sê Gerhard Brand, Ligbron se skoolhoof.

Dit is ‘n poging om te bepaal of die skool in staat is om selfvoorsienend te wees ten opsigte van groenteproduksie.

Een van die aspekte van hierdie projek is die gemeenskapsbetrokkenheid van die leerders.

Die leerders het tot ’n rooster met dienspligte sodat hulle beurte kan maak om na die groentetonnel om te sien.

Die skool het hierdie inisiatief gebruik om leerders buite die klaskamer in te skakel en ‘n liefde vir groenteproduksie te kweek.

Dit dien ook as ‘n platform om die gees van entrepreneurskap onder die jong mense aan te wakker.

“Na drie maande kan ons met trots aankondig dat die resultate van hierdie projek ongelooflik is.” sê Brand.

Meer as 100 kg spinasie, 300 slaaikoppe, ‘n verskeidenheid kruie, beet, wortels, broccoli, blomkool en kool is reeds geoes, en binne die volgende twee weke verwag die skool ‘n verdere oes somergewasse.

Daarbenewens staan Ligbron ook op die vooraand van ‘n opwindende nuwe fase met die implementering van ‘n hidroponiese stelsel wat binnekort in werking sal tree.

Related Articles

Back to top button