CMR Carolina vra gemeenskap se hulp

Die maatskappy help tans elke maand 10 gesinne met kospakkies, en is ook verantwoordelik vir 11 kinders in pleegsorg.

Die plaaslike Christelike Maatskaplike Raad (CMR) van Carolina vra die publiek se hulp.

Weens die toenemende misdaad, gesinsgeweld, kindermishandeling, armoede en werkloosheid in die gemeenskap, is die CMR onder ongelooflike druk wat die finansiële aspekte van sy dienslewering betref.

Die CMR is ’n maatskappy sonder winsoogmerk en benodig fondse om gratis dienste aan die gemeenskap van Carolina, eManzana (Badplaas) en Breyten te verskaf.

Die CMR het die inisiatief geneem om ’n kombers- en voedselkollekteveldtog vanaf 19 Junie tot 28 Julie te hou.

CMR Carolina se bord. Foto | Verskaf

Die gemeenskap word gevra om enige komberse en blikkies kos te skenk. Dit kan by Cardinaalstraat 18 afgelaai word.

In samewerking met die 19th Hole (Carolina Gholfklub), gaan die CMR ook op 29 Julie ’n gholfdag hou. Die inskrywingsfooi is R350 en sluit verwelkomingsverversings in.

Skenkings kan ook in die CMR se bankrekening betaal word: CMR Carolina, Absa Bank, takkode 334251, tjekrekening: 830230270, en jou naam as verwysing.

Vir enige navrae, skakel die maatskaplike werker, Michelle Smit, by 061 957 5575.

Exit mobile version