Local newsUpdate

Huisbrand in Ermelo laat gesin sonder heenkome

Die vier mense, hy, die ma en haar twee kinders, moes ’n motorhuis met mekaar en die troeteldiere deel, en al wat hulle gehad het was die bietjie huisinhoud wat hulle kon red. 

Lynn Charlene Olivier en haar twee seuns woon tans by haar ma, nadat hulle huis in Autumn Ridge op 7 April afgebrand het.

Die huis is met al die inhoud verwoes.

Die Olivier-gesin het aanvanklik eers vir ’n maand na die brand in hul motorhuis geleef, saam met haar vriend, Nico Blake.

Haar pa het begin siek word weens kanker. Olivier en haar twee seuns het na haar ma toe op die dorp verhuis om tydelik met haar pa uit te help.

LEES OOK: Ermelo-gesin leef in motorhuis na brand

Olivier se pa is egter op 17 Mei oorlede.

Blake het aanbeveel dat sy en die twee seuns tydelik by haar ma woon weens die lewensomstandighede tuis. As gevolg van die brand was daar geen elektrisiteit vir die motorhuis nie, en die gesin het ook nie lopende water gehad nie.

Die water en elektrisiteit is intussen tydelik herstel, maar dit los die gesin steeds sonder enige badkamergeriewe. Die gesin moes in ’n skottel was.

Die Olivier-gesin is uiters dankbaar vir die Autumn Ridge/Nomndeni-gemeenskap, asook vir die High Praise Assemblies International Church, wat saamgestaan het om die gesin by te staan in hulle tyd van nood.

Die kombuis. Al die inhoud was beskadig en moes weggegooi word.

Die gesin het basiese behoeftes van die gemeenskap ontvang, en past. Themba Mavuso van die kerk het gereël dat mense kom help om die dak en rommel te verwyder.

Na twee maande is Olivier se woning net ’n leë dop. “Ek wil net huis toe kom,” sê sy.

Die bietjie fondse wat deur die kerk ingesamel is, is ongelukkig nie genoeg om die dak te vervang of die huis te herstel nie.

“Ons wil nie geld hê nie, ons kort net hulp om die huis weer reg te maak.” sê Olivier onsteld.

Die huis staan en verweer sonder sy dak, en dit vermoeilik die restourasieproses.

Skakel Olivier by 066 335 9817 of Blake by 064 916 8904.

Related Articles

Back to top button