Local news

Vroue Landbou-unie se Robyntak op Ermelo vier vierde verjaardag

Tydens die Tambuki-streekkonferensie het die tak gewys dat hy dopgehou kan word, met dié vroue wat verskeie artikels ingehandig het en met vele pryse weggestap het.

ERMELO – Die lede van die Vroue Landbou-unie se Robyntak het op 4 Maart sy vierde bestaansjaar met ’n propvol agenda gevier.

Dié tak het op 12 Maart 2019 ontstaan nadat die behoefte vir ’n oggendtak geïdentifiseer is. Hulle het met nege lede begin en staan vandag op 16.

Lenie Groenewald was die eerste voorsitter. Sy het onlangs die leisels aan Susan van Wyk oorhandig. Die vroue het vier nuwe lede verwelkom en het ook twee gaste gehad.

Marthie de Villiers het haar 20 jaar-knopie ontvang.

Tydens die Tambuki-streekkonferensie het die tak gewys dat hy dopgehou kan word, met dié vroue wat verskeie artikels ingehandig het en met vele pryse weggestap het.

Sertifikate is aan lede vir hul deelname uitgedeel met hul verskeie artikels op streeks- en provinsiale vlak.

Van Wyk het ’n tweede plek vir haar artikels met ’n punt van 553,5 behaal, en ’n sesde plek met 858 punte vir lidprestasie met haar algehele konferensiepunte.

Sy het aan 12 verskeie afdelings deelgeneem.

Groenewald het ’n derde plek vir haar harsdrupmatjie verower.

Evelina Oosthuizen het die Robyn-skakelwisseltrofee vir meelewing in 2022 ontvang. Sy het ook ’n sertifikaat vir deelname en die mees opkomende lid in dié tak ontvang.

Helena de Lange het ’n eerste plek met 78% vir haar borduurmasjienloper behaal.

Anita Joubert het ’n tweede plek met 94% met haar silhoeëtfoto verower.

Elize Boers het ’n tweede plek vir haar gehekelde vrouehoed behaal.

Ná die verrigtinge het Groenewald ’n werksklas aangebied. Sy het gedemonstreer hoe om ’n bloes te maak, en 10 vroue het onderneem om dié artikel aan te pak.

Elize van Heerden en Yolanda Nieuwenhuis was die gasvroue en het die lede met heerlike eetgoed bederf.

Die klub se volgende vergadering vind op 2 Mei plaas.

Enigeen wat wil aansluit, kan Van Wyk by 082 771 1408 skakel.

 

Related Articles

Back to top button