Municipal

Meer verkeersbeamptes beplan vir vragmotorprobleem op Morgenzon

Die plaaslike owerheid sê dat vragmotorbestuurders tevore aangespreek is oor die verontagsaming van padreëls, maar nie gehoor gee nie.

MORGENZON – Onlangse kommer oor vragmotors wat enige plek op die dorp stilhou en gevolglik skade aan infrastruktuur veroorsaak, het ’n reaksie van die Lekwa Plaaslike Owerheid ontlok.

Die stand van sake, wat in Hoëvelder se vorige berig op 12 Julie, Stryd teen vragmotors duur voort, uitgelig is, handel oor die onregmatige parkering van vragmotorbestuurders en die gepaardgaande risiko’s en nagevolge vir inwoners wat deur verskuifde sementblokke op die dorp veroorsaak word.

Lubabalo Majenge, woordvoerder van die plaalike owerheid het gesê dat wetstoepassing rakende vragmotors deur die Morgenzon SAPS en Lekwa Verkeersbeamptes bestuur word.

Sementblokke word gebruik om vragmotors uit die dorp te hou. Foto | Wayne van der Walt

Die sementblokke wat aanvanklik geplaas is om vragmotors te verhoed om in sekere gebiede te parkeer, is volgens hom, nie deur die plaaslike owerheid gedoen nie, maar egter deur die eienaar van ’n plaaslike vulstasie op die dorp.

Hierdie blokke wat onlangs deur vermoedelik vragmotorbestuurders weggeskuif is, hou nou vir motoriste moontlike veiligheidsrisiko’s is. Die sigbaarheid by van die kruisings op die dorp word deur hierdie blokke belemmer.

Op die vraag oor wat die plaaslike owerheid van plan is om te doen om die vragmotorprobleem op die dorp aan te spreek, het Majenge gesê dat hulle addisionele verkeerstekens op sal rig, tesame met voortgesette wetstoepassingspogings.

“Die munisipaliteit beplan ook om verkeersbeamptes te werf wat in hierdie finansiële boekjaar streng aan Morgenzon toegewy sal word.”

Hoëvelder het ook vrae aan Majenge gerig om uit te vind of daar deurlopend met eienaars van vragmotormaatskappye of vragmotorbestuurders gesels word oor die uitdagings wat inwoners ondervind.

Majenge het gesê: “Ons het by verskeie geleenthede met vragmotorbestuurders en eienaars van vragmotormaatskappye gesels, maar die bestuurders verontagsaam steeds die padreëls, wat dus deurlopende wetstoepassing vereis.”

Lees die volledige berig in Hoëvelder.

Related Articles

Back to top button