Municipal

Msukaligwa Plaaslike Owerheid neem stappe teen oortreders

Daar is verskeie ander aspekte wat ook oorsien word, insluitend beweerde onwettige kragkoppelings en moontlike kriminele aktiwiteite

ERMELO – ‘n Inwoner het haar ernstige kommer uitgespreek oor wat sy as onwettige aktiwiteite en ongemagtigde eiendomsuitbreidings beskryf, wat sonder oorsig van die Msukaligwa Plaaslike Owerheid plaasvind.

Volgens die bron, wat anoniem wou bly, word sekere eiendomme in Oosthuise- en Robertsontraat na bewering vir sakedoeleindes gebruik sonder die nodige besigheidsregte.

“Die munisipaliteit moet hierdie plekke dringend ondersoek om te verseker dat hulle aan die munisipale verordeninge en bouregulasies voldoen,” het die inwoner gesê.

Soortgelyke kommer is ook deur die bron uitgespreek oor die nienakoming van bouregulasies in Robertsonstraat.

Die bron het beklemtoon dat daar verskeie ander aspekte is wat ook oorsien word, insluitend beweerde onwettige kragkoppelings, die onwettige uitbreiding en bou van bykomende woonstelle, en moontlike kriminele aktiwiteite.

‘n Kragkoppeling by een van die persele. Foto | Verskaf/Anoniem

Hoëvelder het in die verlede al verskeie kere berig oor die rusverstoring en die toename in bordele en beweerde dwelmhuise in Robertsonstraat, wat die inwoners dáár hewig ontstel het.

Mandla Zwane, woordvoerder van die munisipaliteit, het gesê: “Die munisipaliteit is bewus van die nienakoming van bouregulasies in hierdie én ander gebiede.”

Volgens hom het die munisipaliteit deur die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling ‘n assistentdorpsbeplanner en bouinspekteurs aangestel om die nakoming van die bouregulasies en/of toepassing van regulasies te verseker.

‘n Bron beweer dat een van die persele onwettig uitgebrei word. Foto | Verskaf/Anoniem

“Die departement het ‘n aantal kennisgewings hieroor aan die oortreders uitgereik. By veral Robertsonstraat 15 is die aangeleentheid na die regsafdeling vir verdere optrede gestuur, wat ‘n hofbevel insluit om die eienaar te verplig om aan die regulasies te voldoen, of om die struktuur te laat sloop.”

Lees die volledige berig en kommentaar van die woordvoerder in vandeesweek se Hoëvelder.

Related Articles

Back to top button