Municipal

Msukaligwa spoor inwoners aan om lae spanning te rapporteer

Die Msukaligwa Plaaslike Owerheid het nie kennis van die probleem gedra nie.

Die dorpenaars is ontevrede met die Msukaligwa Plaaslike Owerheid se hantering van elektrisiteitsprobleme.

’n Vraag wat op Hoëvelder se Facebook-blad geplaas is oor lae spanning, het kwade reaksies van inwoners ontlok.

Hoëvelder het navrae aan die plaaslike owerheid se woordvoerder, Mandla Zwane, gerig om onder andere uit te vind of hulle van die probleem bewus is.

Zwane het aangedui dat die plaaslike owerheid nie bewus was van hierdie probleem nie.

“Ons sal dit waardeer as ons spesifieke adresse en kontakte van al die inwoners wat deur die lae spanning geraak word, kan ontvang. Daarna sal ons elektrisiëns stuur om die probleem te ondersoek en te herstel.”

Hy het aangedring dat inwoners wat lae spanning by hul huise ervaar, hul klagtes deur die munisipale kontaksentrum by 0800 014 903 moet indien.

Volgens hom word die lae spanning veroorsaak deur verbrande neutraaldrade en IPC-kleppe vanaf die paal of selfs die kragboks. “Dit kan ook wees weens gesteelde neutraaldrade van die kragboks.”

Hy het bevestig dat lae spanning ’n impak op huishoudelike toestelle het en het inwoners aangeraai om alle toestelle onmiddellik af te skakel as hulle vermoed dat hulle deur lae spanning geraak word, en om die probleem dadelik by die kontaksentrum aan te meld.

Verder het hy gesê dat die plaaslike owerheid die saak sal aanspreek en dit so spoedig moontlik herstel sodra hulle die spesifieke adresse van die geraakte inwoners ontvang het.

Op die vraag of inwoners eise kan indien vir beskadigde toestelle, het hy bevestig dat die plaaslike owerheid prosesse in plek het waardeur inwoners eise kan indien, wat op ’n individuele basis evalueer en hanteer sal word.

Related Articles

 
Back to top button