Crime

Ermelo se Robertsonstraat: ’n skandvlek vir die dorp

Sommige inwoners is van mening dat hierdie aksies van die plaaslike owerheid nog geen vrugte afgewerp het nie

ERMELO – Hoëvelder het in sy uitgawe van 26 Julie oor die rusverstoring en toename in bordele en beweerde dwelmhuise in Robertsonstraat berig, wat die inwoners daar hewig ontstel.

Mandla Zwane, die woordvoerder vir die Msukaligwa Plaaslike Owerheid, sê die munisipaliteit is bewus van die nienakoming van bouregulasies in hierdie én ander gebiede.

Volgens hom het die munisipaliteit deur die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling ’n assistentdorpsbeplanner en bouinspekteurs aangestel om die nakoming van die bouregulasies en/of toepassing van regulasies te verseker.

“Die departement het ’n aantal kennisgewings hieroor aan die oortreders uitgereik.

“By veral Robertsonstraat 15 is die aangeleentheid na die regsafdeling vir verdere optrede gestuur, wat ’n hofbevel insluit om die eienaar te verplig om aan die regulasies te voldoen, of om die struktuur te laat sloop.”

Zwane het ook gesê dat ’n oortredingskennisgewing aan Robertsonstraat 10 beteken is, waarna verdere regstappe aanbeveel sou word indien daar nie daaraan gehoor gegee word nie.

’n Bejaarde inwoner het vertel hoe ’n persoon vanuit hierdie karavaan sake doen.

Hy het verder ’n waarskuwing aan die inwoners wat nie aan die munisipale bouregulasies voldoen nie gerig en gesê dat stappe teen hulle geneem sal word.

Sommige inwoners is van mening dat hierdie aksies van die plaaslike owerheid nog geen vrugte afgewerp het nie.

’n Bejaarde inwoner wat in hierdie straat woon het aan Hoëvelder gesê dat die kennisgewings eenvoudig net deur sommige van die mense verwyder is.

Die inwoners het ook hul ongelukkigheid uitgespreek oor ’n persoon wat glo vanuit sy karavaan sake doen. “Die man bly nou daar op die sypaadjie en bestuur sy sake. Hy ontsier die gebied,” het die ontstelde bejaarde vertel.

Sy het ook beweer dat water vanuit ’n brandkraan getap word, wat teen die munisipale verordeninge is.

Die koerant het weer die gebied besoek en opgelet hoe daar steeds verskeie bedenklike aktiwiteite plaasvind.

Voor die hek van die CMR Lighuis, wat ’n heenkome bied aan mense wat hulself op straat bevind, is opgemerk hoe verskeie individue op die sypaadjies sit en mekaar met naalde inspuit. Dit is onduidelik wat ingespuit word.

Lees die volledige berig in Hoëvelder om te hoor wat die plaaslike owerheid te sê het oor die wetstoepassing in hierdie strate.

Related Articles

Back to top button