Jong man van Ermelo veg om lewe na onderonsies by kuierplek

Daar is 'n rekening vir hom geopen en die trust word deur Danie van der Walt by Botha & Van Dyk Prokureurs bestuur.

ERMELO – ‘n Jong inwoner van die dorp, Ryan Alves, het in die vroeë oggendure van Sondag 2 Oktober, ernstige beserings in ‘n onderonsie buite ‘n Pretoriase kuierplek opgedoen. Sy toestand is kritiek.

Alves was saam met twee van sy vriende by die kuierplek toe hulle volgens ‘n bron, wat verkies om anoniem te bly, in ‘n woordewisseling met twee ander persone, wat hulle geken het, betrokke geraak het.

‘n Vuisgeveg het gevolg, waartydens Alves beserings opgedoen het.

“Ná die voorval het hy en sy vriende weer die kuierplek binnegegaan, maar is blykbaar deur een van die uitsmyters beveel om die perseel te verlaat.”

Volgens onbevestigde inligting was daar twee onbekende mans wat ook by die deur gestaan het.

Na ‘n twis met die uitsmyter oor waarom hulle weggewys is, het Alves-hulle besluit om te vertrek.

Een van sy vriende het glo vir hom gesê hy gaan vir hulle ‘n Uber reël.

“Toe hy sy oë uitvee, het een van die onbekende mans vir Alves van agter af met die vuis bygedam en hom bewusteloos geslaan. Een van sy vriende was ook in ‘n geveg met een van die mans betrokke,” het die bron beweer.

Geld vir sy mediese onkostes word dringend benodig, omdat sy mediese fonds nie sekere prosedures dek nie.

Daar is ‘n rekening vir hom geopen en die trust word deur Danie van der Walt by Botha & Van Dyk Prokureurs bestuur.

Enigiemand wat Alves se gesin in dié tyd wil bystaan, kan ‘n direkte deposito in hierdie trustrekening maak: Nedbank-takkode: 151644, rekeningnommer: 1468116924, verwysing: RYA3/1/jou naam.

Navrae is gerig aan die beweerde aanranders van die eerste voorval asook die woordvoerder van die Brooklyn SAPD.

Die woordvoerder het gevra dat enige iemand met meer inligting lt.kol. Maphala by 082 419 9145 skakel.

Lees die volledige berig in die Hoëvelder.

Exit mobile version