News

Skielike beroerte ’n harde slag vir Ermelo-gesin

Die beroerte het die regterkant van Theuns se liggaam verlam gelaat, maar met behulp van fisioterapie het hy onlangs sy eerste tree gegee.

ERMELO – Die Van Niekerk-gesin se lewens het drasties verander, nadat  Theuns van Niekerk, ’n liefdevolle man en pa van drie seuns in Junie ’n beroerte gehad het en nou afhanklik is van fisio- en spraakterapie.

Weens dié beroerte is hy tans aan die regterkant van sy lyf verlam, en kan hy nie op die oomblik praat of kommunikeer nie.

Chantelle van Niekerk sê sy het op die aand van 13 Junie skielik wakker geword toe haar man vreemde geluide begin maak het.

“Ek het eers gedink hy droom dalk en dat hy in sy slaap mompel, maar nadat ek die bedlampie aangeskakel het, het ek dadelik besef dat daar groot fout is,” sê sy.

Sy het die ambulans ontbied, waarna hy in die Mediclinic Ermelo opgeneem is. Die opname self het die gesin sowat R20 000 uit die sak gejaag.

Chantelle en Theuns van Niekerk, en hul drie seuns. Foto | Verskaf

In die weke daarna is Theuns in die M-Care Highveld in eMalahleni vir rehabilitasie opgeneem, waar hy daagliks intensiewe fisio- en spraakterapie ontvang.

“Ons kon sien dat die daaglikse terapiesessie ’n verskil maak, maar ons kan nie bekostig om hom in die sentrum te hou nie. Ons het besluit om hom huis toe te bring en het hier in Ermelo vir terapie gereël.”

Theuns het onlangs sy eerste paar tree met behulp van ’n fisioterapeut gegee, en Chantelle is opgewonde oor die verbetering.

Met die mediese uitgawes wat die gesin vir Theuns moes aangaan, sukkel Chantelle om kop bo water te hou. Sy sê dat sy haar voertuig moes verkoop  en het ook ’n kennisgewing van haar kinders se skool ontvang dat die skoolfonds agterstallig is.

’n Trustrekening is by PWG Prokureurs geskep om die gesin met Theuns se mediese uitgawes te help.
Enigiemand wat die gesin kan help, kan die volgende rekening gebruik: Standard Bank, takkode 052844, Prinsloo Greyling Ingelyf, rekeningnommer 081668929, verwysing: V1283 – Theuns van Niekerk.

Related Articles

Back to top button