News

Ermeloërs maak harte oop na perde se weiding verbrand

Verskeie mense het hooibale geskenk ná die somerweiding vir die perde en dít wat oor was van die winterweiding tydens die brand vernietig is.

ERMELO – Die eienaars van die perdeterapieryskool in Camdenlaan het die inwoners wat hul harte oopgemaak het ná die verwoestende brand op 12 Augustus, bedank.

Volgens Erica Boersema, die ryskooleienaar, het verskeie mense hooibale geskenk ná die somerweiding vir die perde en dít wat oor was van die winterweiding tydens die brand vernietig is.

“Ons wil graag vir Theo Papenfus, Eric Jacobsz, Rhoda Kirsten, Marthinus Bam, Gawie Roux, Meyer Mentz, Paul Grey, Ermelo Toyota, Noeline Loubser vir die vragmotor wat sy beskikbaar gestel het om die bale te gaan haal en Madelein Fourie vir al die reëlings bedank,” het Boersema gesê.

Brandbestryders van Working on Fire doenig in Camdenlaan. Foto: Wayne van der Walt

Sterk winde het gereeld van rigting verander en het die vuur aangedryf, en hoewel die diere tot veiligheid gebring is, het sowat 68 ha weiding, verskeie kabels, omheinings en pale in die slag gebly.

Die sentrum gebruik sowat een baal per perd ’n maand, wat beteken dat daar nog sowat 20 bale ’n maand benodig word.

Indien enige persoon ekstra bale besit wat hulle aan die ryskool wil skenk, kan hulle Boersema by 082 338 8667 skakel.

Volgens Mandla Zwane, die Msukaligwa Plaaslike Owerheid se woordvoerder, is die brand deur ’n elektriese paal veroorsaak.

Related Articles

Back to top button