Local newsNews

Ermelo Marathon klub staan saam om Eduan (8) te help

Dié wedloop sal op 9 Augustus om 08:00 by die Ligbron Akademie vir Tegnologie afskop en die inskrywingsgeld is enige skenking.

ERMELO – Eduan Janse van Rensburg is ‘n pragtige agtjarige seun wat op die ouderdom van slegs vier maande met skeletdisplasie gediagnoseer is.

Dit is die mediese term vir waarna baie mense verwys as dwergisme.

Hy laat egter nie dat dit hom onderkry nie, en sy ma, Mariet, sê dat die saggeaarde seun ‘n groot hengelaar is en dat hy ure langs die dam kan spandeer.

Sy ma sê dat hy homself vir ure kan besig hou, en geniet dit om buite te speel.

Volgens haar het hy op die ouderdom van vier maande ‘n liesbreekoperasie by die Steve Biko Akademiese Hospitaal ondergaan, en dis ook hier waar daar tydens toetse gesien is dat hy een chromosoom te min het, en is hierna met skeletdisplasie gediagnoseer.

“Ek was 40 jaar oud toe ek swanger met Eduan was, en die dokters was bykans 95% seker van hul saak dat hy downsindroom sou gehad het, omdat hy nie gegroei het soos hy normaalweg moes nie,” het Mariet gesê.

Sy sê dat hy verstandelik niks skort nie, maar dat hy wel liggaamlike gebrekke het.

Kort na hy gediagnoseer is, het dokters die hartverskeurende nuus dat sy lewensverwagting slegs 21 jaar sou wees, met haar gedeel.

“Ek was baie ongelukkig toe ek die nuus ontvang het, en ek glo geen mens kan God speel nie.”

Lees die volledige berig in vandeesweek se Hoëvelder.

Een van die nagevolge van die sindroom is dat die grondlegging vir sy tande nie normaal is nie, wat veroorsaak dat hy nie normaalweg tande kan wissel nie.

Eduan het geen tande bo nie en is al verskeie kere hieroor gespot.

“Dit maak hom baie emosioneel en na vele trane en mooipraat, verseker ek hom dat Liewe Jesus hom spesiaal gemaak het, en dat dit wel sal regkom.”

Die woorde troos sy seer hart, maar die situasie laat wel letsels agter.

Ermelo Marathonklub, wat die jaarlikse Megan Herbst-pretloop aanbied, sal vanjaar se skenkings gebruik om Eduan se tande te laat regmaak.

Dié wedloop sal op 9 Augustus om 08:00 by die Ligbron Akademie vir Tegnologie afskop en die inskrywingsgeld is enige skenking.

Related Articles

Back to top button