Rolspelers span saam om plan te beraam vir land se paaie

Hy het gesê dat daar al heelwat positiewe terugvoer op die brief was.

ERMELO – Motoriste is lank reeds raadop met die huidige toestand van die paaie op die dorp.

Die realiteit is dat naburige dorpe se paaie ook nie veel beter lyk nie.

Paaie is die lewensaar van ’n land en die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) van Suid-Afrika en ander enersdenkende organisasies is vasbeslote om met ’n oplossing vorendag te kom om die haglike toestand hiervan aan te spreek.

“Dit is vir ons duidelik dat verskeie rolspelers in Suid-Afrika bekommerd is oor die land se paaie en iets daaromtrent wil doen. Dit is om die rede wat TLU SA ’n brief aan verskeie organisasies gestuur het om voor te stel dat ons kragte saamsnoer om ’n oplossing te probeer vind,” het mnr. Bennie van Zyl, die hoofbestuurder, gesê.

“In die skrywe het ons dit duidelik gestel dat die regering oor tyd heen nie die nodige aandag aan die instandhouding van die infrastruktuur gee nie. TLU SA is van mening dat ’n kollektiewe poging om die saak aan te spreek en ’n gesamentlike strategie daar te stel, nodig is om beter uitkomste te bied as wat ons elkeen tans op ons eie lapwerk doen.”

Volgens hom sal die regsaanspreeklikheid indien iemand ’n pad herstel uitgeklaar moet word, sowel as die moontlike verhaling van kostes aangegaan indien die staat nie sy verantwoordelikheid na behore nakom nie.

“Dit is vir ons belangrik dat almal ‘n stem in die proses moet hê, en ons wil almal se stem hoor in ‘n poging om met ’n oplossing vorendag te kom.”

Hy het gesê dat daar al heelwat positiewe terugvoer op die brief was.

Die samesprekings gaan op 3 Junie geskied en TLU SA nooi diegene wat ‘n bydrae wil lewer, om ’n e-pos aan sekretaresse@tlu.co.za te stuur om hul bywoning te bevestig.

“Ek is oortuig daarvan as ons almal saamspan, ons heelwat meer wringkrag gaan hê om ‘n oplossing te bewerkstellig,” het hy gesê.

Exit mobile version