Local newsNews

Hoëvelder besoek Springbokskut wat Jonty die perd sou skiet as sy valskerm nie wou oopmaak nie

In 1960 is hy as die jongste Springbok gekies om Suid-Afrika tydens die 100ste skietkompetisie in Bisley in Engeland te verteenwoordig.

ERMELO – Hoëvelder het onlangs aan huis van mnr. Juba Grobler gaan kuier, waar hy op die ouderdom van 88 jaar steeds gereeld met sy windbuks in sy huis oefen.

Hy sê dat dit nie net help om die perfekte skoot te skiet nie, maar ook om die lewe se gejaag so bietjie te stil.

LUISTER OOK: – Oubaas de Jager kuier saam tydens Hoëvelder se eerste potgooi

Dis ook in dié sportsoort wat mnr. Grobler sy interessante lewenswyse ontdek het, waarby hy steeds vandag lewe en ook graag met ander deel.

Hy sê dat hy in sy gr. 11-jaar by Hoërskool Ermelo ernstig in die sport begin belangstel het en dat hy daagliks 24 km ná skool met sy fiets gery het om 10 skote tydens oefening in te kry.

Mnr. Juba Grobler.

In 1960 is hy as die jongste Springbok gekies om Suid-Afrika tydens die 100ste skietkompetisie in Bisley in Engeland te verteenwoordig.

As die jongste skut in die span, het die senuwees behoorlik geknaag en hy was bekommerd dat hy nie die mas sou opkom nie.

Tydens die 14 dag lange bootvaart, het mnr. Grobler sy groen baadjie nie soos die ander spanlede gedra nie, maar diep onder in sy koffer gebêre.

“Ek was maar skrikkerig dat ek nie dié baadjie genoeg eer sou aandoen nie,”

Maar dit was reeds op die eerste oefendag in Engeland dat hy besef het dat hy geen rede het om vir enige skut terug te staan nie, en is kort daarna as die beste SA skut van die toernooi aangewys.

Mnr. Grobler het vertel dat die kuns van die sport in die korrekte lesings van die wind en lugspieëling lê.

“Voor elke skoot beweeg die skut se visier terug na die middellyn, waarna die lesings weer aangepas word soos die wind van rigting en spoed verander,” sê hy.

Net so voor ons kuiertjie tot ’n einde gekom het, het hy van die enigste keer in sy skietloopbaan vertel toe hy behoorlik op sy senuwees was om iets te skiet.

Maak seker om die volledige berig in die Hoëvelder te lees.

Related Articles

Back to top button