Onderneming maak beursies oop vir Devin

Mnr. Van Dyk het die bedrag wat hulle ingesamel het, verdubbel, en só het hulle altesaam R7 500 vir Devin gebied.

ERMELO – Mnr. Jacques van Dyk en sy span by PanSolutions het onlangs hul harte en beursie vir Devin Rheeders oopgemaak.

Devin (4) is deur die Oorinstituut in Pretoria met ouditiewe sinchronisasie disfunksie (ANSD) gediagnoseer en benodig ’n koglea-inplanting.

Hoewel Devin twee inplantings benodig wat die gesin sowat R605 575 uit die sak gaan jaag, sal net een inplanting reeds ’n groot verskil in sy lewe kan maak.

Volgens me. Marelize Britz van Ermelo Care Bears het mnr. Van Dyk met die uitdaging vorendag gekom, en vinnig het al sy personeellede aanboord gespring en ’n kontantbedrag aan Devin geskenk.

Mnr. Van Dyk het die bedrag wat hulle ingesamel het, verdubbel, en só het hulle altesaam R7 500 vir Devin gebied.

“Dankie aan hierdie wonderlike mense vir julle liefde en omgee vir Devin,” het me. Britz gesê.

PanSolutions wil De Wit Motors Ermelo uitdaag om aan dié inisiatief deel te neem.

Hulle beoog om die nodige gelde voor einde April in te samel en benodig elke onderneming in Ermelo se hulp.

Enige onderneming wat graag van die inisiatief deel wil wees, kan me. Britz by 084 813 0777 skakel.

Exit mobile version