Dief breek by verskeie voertuie in woonstelkompleks in Ermelo in

Die inwoners het die gemeenskap gewaarsku om hul veiligheid op te skerp en waaksaam te wees.

ERMELO – Inwoners van ’n woonstelkompleks in Jansenstraat het op 8 Maart ’n waarskuwing aan ander inwoners in die omgewing gerig om waaksaam te wees, nadat daar in die vroeë oggendure by verskeie voertuie by die kompleks ingebreek is.

’n Inwoner van dié kompleks wat uit 12 eenhede bestaan, het gesê dat daar nog nooit voorheen enige probleme by die woonbuurt was nie.

Volgens een van die inwoners word baie van die huurders se voertuie vir verskeie redes buite hul motorhuise deur die aand geparkeer.

In die tydperk wat die krag van die kompleks af was, het ’n man die perseel betree en toegang tot verskeie voertuie bekom.

By die voertuie is daar onder andere sleutels, sonbrille en USB-stafies gesteel.

Daar is glo by van die inwoners se motorhuisdeure ook gepeuter, maar die inwoners het geen onraad vermoed nie en het dit afgemaak aan ander inwoners wat by hul huise rondbeweeg.

’n Blompot is voor een van die motorhuise geskuif, waarna die inwoner haar voertuig die volgende oggend teen die pot gestamp het.

“Ons weet glad nie hoe die persoon by die perseel ingekom het nie, want al die hekke was toe gewees,” het die inwoner vertel.

Die inwoners het die gemeenskap gewaarsku om hul veiligheid op te skerp en waaksaam te wees.

Exit mobile version