Care Bears loods projek om Devin Rheeders te help met koglea-implanting

Met die ideale ouderdom vir dié operasie wat vier is, begin die tyd teen Devin tel wat die doeltreffendheid van die apparaat betref.

ERMELO – Die Care Bears is vuur en vlam met ’n projek aan die gang om Devin en sy ouers te help om ’n astronomiese bedrag geld in te samel, om hom die geleentheid te gee om te hoor en te leer praat.

Devin (4) is deur die Oorinstituut in Pretoria met ouditiewe sinchronisasie disfunksie (ANSD) gediagnoseer.

Hy het as kind al sy mylpale saam met sy tweelingbroer behaal, maar toe die tyd aanbreek dat hy moet begin praat, het sy ma, me. Natasha Rheeders agtergekom dat hy stadiger as sy broer vorder.

Dit is eers toegeskryf aan die feit dat kinders nie teen dieselfde tempo nuwe woorde aanleer nie, maar me. Rheeders het tog gevoel dat hulle hul seun moet laat toets net om seker te maak.

Ná ’n pediater in Mbombela se aanbeveling het dat hulle na sy mangels laat kyk, is dit na Devin se tweede verjaarsdag verwyder en het hy dreineringsbuisies gekry.

Sowat ses maande later het Devin se spraak steeds nie verbeter nie, en is sy ouers met hom na ’n oudioloog en spraakterapeut in die dorp waar verskeie toetse gedoen is.

’n Ouditiewe breinstamrespons (ABR)-toets het bevestig dat sy gehoorverlies ernstig was.

Tydens so ‘n toets word daar gekyk om te sien hoe die gehoorsenuwees en brein op klanke reageer.

Die gesin wou ’n tweede opinie gekry het, en is na die Oorinstituut verwys.

Hoewel Devin twee inplantings benodig wat die gesin sowat R605 575 uit die sak gaan jaag, sê me. Rheeders dat net een inplanting reeds ’n groot verskil in sy lewe kan maak.

Die kostes vir een operasie beloop sowat R375 000.

Ermelo Care Bears het gereël dat Irene-Louise van Wyk op 29 April, Ermeloërs by Signs to See sal vermaak.

Kaartjies beloop R150 per persoon en inwoners kan hul eie drinkgoed saamneem.

Verversings sal gedurende die vertoning verkoop word.

Enigeen wat die Devin wil ondersteun of vir meer inligting oor die geldinsamelingsdag, kan vir me. Julia Basson by 060 905 7150 of me. Marelize Britz by 084 813 0777 skakel.

Lees meer oor Devin in die Hoëvelder.

Exit mobile version