Local newsNews

Ermelo se Susan van Wyk is Tambuki Vrou van die Jaar

Sy geniet dit om ook verskillende artikels aan te pak en geniet dit om by die lede wat reeds 40, 50 en 60 jaar aan die VLU behoort, te leer.

ERMELO – Me. Susan van Wyk, visevoorsitter van die Vroue Landbou-unie (VLU) se Robyntak, is onlangs tydens die jaarlikse konferensie as die nuwe Tambuki Vrou van die Jaar aangewys.

Dié konferensie het op 19 Februarie by Wetlands in Wakkerstroom plaasgevind.

Me. Van Wyk het in 2019 by die VLU se Robyn-tak aangesluit, nadat sy deur die aandtak genader is om ’n praatjie by een van hul vergaderings te lewer.

“Dit was tydens die vergadering wat ek besef het die VLU gaan nie oor koekies bak, hekel en slaapsokkies brei nie, maar dat vroue ’n verskil in die lewe kan maak en die VLU bied ’n spreekbuis vir hulle,” het me. Van Wyk vertel.

Die Robyn-oggendtak is vir diegene wat nie kans sien om in die aand uit te gaan nie, gestig.

Me. Van Wyk is as die visevoorsitter en skakelbeampte van dié tak verkies.

Sy geniet dit om ook verskillende artikels aan te pak en geniet dit om by die lede wat reeds 40, 50 en 60 jaar aan die VLU behoort, te leer.

“Om te sien hoe lede groei in dit wat hulle aanpak maak dit die moeite werd om deel te wees van die VLU.”

Me. Van Wyk het die vroue van die Robyn-tak wat haar vir die toekenning genomineer het, bedank.

“Hoewel toekennings nie van jou ’n beter mens maak nie, beteken dit wel dat dit wat ons doen, wel trefkrag het.”

Sy hoop om ook ’n verskil in die lewens van jong swanger meisies, babas sonder ‘n heenkoming, en bejaardes in nood te maak.

Sy het alle vroue wat belangstel uitgenooi om ’n vergadering van die tak by te woon en deel te word van ’n tak met passie vir vrouwees.

Related Articles

Back to top button