Local newsNews

Nieregeringsorganisasies vra hof oor kos ná staatsamptenare glo swyg

“Ons kan nie toelaat dat mense van die honger doodgaan terwyl die regering probeer uitmaak wat moet en mag, en wat nie mag nie.

Die welsynsorganisasie Solidariteit Helpende Hand, het die dienste van sy regspan aan Cradle of Hope (COH) beskikbaar gestel aangesien COH verhoed word om kos aan honderde honger mense in Krugersdorp te gee.

COH is ’n liefdadigheidsorganisasie wat al vir die afgelope vier jaar daagliks behoeftige mense van die gemeenskap voed.

Dié organisasie is onlangs verhoed om sop aan honger mense te verskaf en is verlede week aangesê om op te hou om daagliks toebroodjies aan nagenoeg 600 mense te verskaf.

Mnr. Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het gesê Helpende Hand het besluit om COH te ondersteun en het reeds deur sy regspan skrywes gerig aan verskeie staatsinstelling, waaronder die kantoor van mnr. David Makhura, die Gautengse premier, en aan mnr. Panyaza Lesufi, die waarnemende Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling.

Die skrywes was om te midde van verskeie stellings in die media en “uitgelekte riglyne” duidelikheid te kry oor die amptelike regte van geregistreerde nieregeringsorganisasies wat die uitdeel van kos betref.

Dié regeringsinstellings het teen Maandag, 18 Mei omstreeks 1nm nog nie op Helpende Hand se skrywe gereageer nie, waarna Helpende Hand en COH hul regspan, Hurter Spies, opdrag gegee het om dringend hofstukke voor te berei om hul regsbeginsel in die hof te gaan toets.

“Die staat het ons in ʼn posisie geplaas waarin ons nie wou wees nie, en dit is om klarigheid by die hof te kry oor die uitdeel van kos en die verdeling van noodsaaklike middele,” het mnr. Noëth gesê.

“Helpende Hand bly by sy standpunt dat ons nie ons kos sal laat sentraliseer of reguleer nie.

“Me. Lindiwe Zulu, die minister van maatskaplike ontwikkeling, het in die media gesê NRO’s verstaan die departement se riglyne verkeerd en daarom vra ons dat sy dan op ons skrywes, en nie in die media nie, antwoord.

“Ons eerste reeks skrywes is al op 7 Mei aan mnr. Lesufi gestuur, maar daarvan het niks gekom nie.

“Toe COH die eerste keer verhoed is om kos uit te deel, het ons weer skrywes gestuur en daarvan het ook niks gekom nie.

“Dit het ons genoop om COH met regshulp by te staan sodat die hof vir ons die antwoorde kan gee wat ons soek.”

Mnr. Noëth het benadruk dat die land hom in ʼn nasionale ramp bevind en die samelewing antwoorde tydens só ramp benodig.

“Ons kan nie toelaat dat mense van die honger doodgaan terwyl die regering probeer uitmaak wat moet en mag, en wat nie mag nie.

“Buiten die uitdagings wat Covid-19 inhou, groei die nood daagliks en hongersnood neem toe.”

Hy meen dit is frustrerend om onseker te wees oor wat jy mag en nie mag doen nie.

Sedert die staat van inperking in werking getree het, het die aanvraag na kos, wat COH verskaf, met 300 mense toegeneem.

“COH het die nodige riglyne gevolg, maar hul hande is intussen afgekap.

“Ons gaan dus nou op ʼn dringende basis hof toe, want mense is besig om van die honger dood te gaan,” het mnr. Noëth gesê.

Hy het ook genoem dat Helpende Hand nie in die verlede verhinder is om kos uit te deel nie en gaan dit ook nie nou toelaat nie.

“In ʼn noodtoestand soos dié wat ons nou beleef, moet die staat dit makliker maak om noodverligting te verleen, nie moeiliker nie.

“Ons is meer as bewus daarvan dat daar billike gesondheidsregulasies moet wees, maar ons kan nie bekostig om deur ʼn burokratiese gesukkel daarvan weerhou te word om kos uit te deel nie,” het mnr. Noëth afgesluit.

Uitgereik deur: Phillip Bruwer, Helpende Hand Mediaskakelbeampte (Aangepas vir publikasie)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button