Local newsNews

Geliefde koerantlegende, Corrie Kleinhaus sterf

Mnr. Kleinhaus sal as ’n legende in Ermelo se koerantgeskiedenis onthou word.

Mnr. Corrie Kleinhaus, voormalige redakteur van die Hoëvelder, is op 5 Mei oorlede, nadat hy ses weke gelede ná ’n beroerte in Trichardt Mediclinic en daarna in die Intercare Hazeldene Versorgingseenheid opgeneem is.

Hy is in Ermelo gebore en getoë en het in 1950 by die Hoëvelder as verslaggewer, fotograaf, proefleser en vertaler begin werk.

Hy was vir 45 jaar by die Hoëvelder werksaam, waarna hy ook vir ’n paar jaar as vryskutjoernalis gewerk het.

Mnr. Kleinhaus sal as ’n legende in Ermelo se koerantgeskiedenis onthou word.

Mnr. Corrie Kleinhaus, voormalige redakteur van die Hoëvelder, is op 5 Mei oorlede. Opsoek

Uit sy pen het vele berigte om Ermelo se geskiedenis weer te gee, gevloei en het hy geskiedkundige gebeure soos die opening van Camden-kragstasie, die eerste verskuiwing van die Ruiterstandbeeld na die Burgersentrum, eerstehands beleef.

Hy was ook vir skolenuus verantwoordelik wat daartoe gelei het dat hy die rugbygeskiedenis van die Hoërskool Ermelo saam met prof. Heinrich Schulze in twee uitgawes gepubliseer het.

In 2014 is hy tydens Hoërskool Ermelo se Lourierfunksie as die skool se Errie van die Eeu aangewys.

Mnr. Kleinhaus se verbintenis met Hoërskool Ermelo strek al van 1941 toe hy ’n leerling daar was.

Hy het 60 interhoër atletiekbyeenkomste bygewoon.

Tydens ’n vorige besoek aan mnr. Kleinhaus was sy liefde vir EHS en veral rugby duidelik sigbaar, terwyl hy deur sy fotoalbums geblaai het en met sy pragtige sportfotos gespog het.

Elke foto het ’n storie en so is ook die name van elke speler deurgegee.

Vir hom was Ermelo nie net sy huis nie, maar ook sy veilige hawe en het hy dit ook so in een van sy gedigte, “My veilige hawe” neergepen.

In die gedig het hy geskryf:

“Hier in my veilige hawe
moet jul my begrawe
hier ná my dood
wil ek rus in sy skoot”

Me. Elmarie Cilliers, jare lange inwoner van Ermelo het gesê: “Oom Corrie se pen het stil geword, Ermelo is armer sonder hierdie ongelooflike man en bron van kennis.”

Hoewel sy stem nou stil is, sal hy nog vir jare wat kom onthou word as Oom Corrie koerant, wat altyd langs die sportvelde met sy kamera om sy nek gestaan het.

Hy laat sy vrou Elsa, twee dogters, sewe kleinkinders en agt agterkleinkinders agter.

Related Articles

Back to top button