Local newsNews

Geliefde Ermeloër, Rita van Aardt sterf

Sy was ’n Godsvresende mens wat altyd vir haar medemens regestaan het.

Me. Rita van Aardt, ’n jarelange inwoner van Ermelo is op 28 Maart oorlede.

Haar familie sal haar onthou as eggenoot, moeder, ouma, groot-ouma en vriendin, wat vir 88 jaar voluit geblom het en liefde gesaai het waar sy ookal beweeg het.

Me. Van Aardt is beskryf as ’n stemmige, rustige mens, wat altyd ’n voorbeed van onbaatsugtige dienswerk vir haar Meester.

Sy was ’n Godsvresende mens wat altyd vir haar medemens regestaan het.

Me. Mariaan Rust, me. van Aardt se kleindogter, het gesê: “Ons as familie onthou haar as iemand wat in nederige bekwaamheid op vele terreine altyd met grasie kon leiding neem, maar ook kon dien met haar hart vol liefde en deernis.”

“Ons onthou al die pannekoeke wat sy vir bure en vriende uitgedeel het op reëndae.”

Haar vriende en bure het haar in Pretoria, waar sy vanaf 1991 tot 2004 woonagtig was, as die “die engel van Enkeldoorn” geken .

In die Ermelo SAVF-tehuis vir bejaardes, waar sy vir 16 jaar gewoon het, is dié tradisie van haar voortgesit, totdat sy haar sig verloor het.

Dié sagte ouma was geseën met 10 kleinkinders en 13 agterkleinkinder wat sy altyd regverdig en met tonne liefde bederf het.

In die tehuis, is elke nuwe intrekker persoonlik deur haar verwelkom met ’n besoek, ’n pakkie koekies en ’n program van bidure, kerkdienste, Bybelstudies en ander aktiwiteite.

Vir baie jare, het sy getrou die leraars gebel en kerklike aktiwiteite gekoördineer, die samesang met haar mooi stem gelei en gesorg vir vars blomme by elke erediens in die tehuis.

“Sy kón toor met blomme.”

Menigmaal het sy die Bybelstudiegroepie getrakteer met keurige tee en verversings.

Sondae was dit haar groot lekkerte om aan diegene by die Altzheimer-afdeling koekies of paaseiers uit te deel en ander dae het sy diegene met spesiale behoeftes besoek en saam met hulle gebid.

“Ons harte is stukkend om haar te moes groet, maar ons eer die Here vir haar lewe, vir al die jare wat sy aan ons geleen was.”

Die familie beoog om, wanneer die stof na die inperking gaan lê het, ’n dank- en lofdiens te reël om God te dank vir haar deel in hul lewe.

“Besondere dank aan elkeen wat Mamma en ons as familie met liefde, sorg en gebede gekoester het, veral die laaste drie weke van haar lewe.”

“Dankie aan Dr. Tommy Olivier, die personeel van die SAVF-tehuis, by name Annalise, Mientie, srs. Pretorius en Van Schalkwyk, dr. Bahadur en personeel in Highveld Mediclinic, Rita wat elke dag by Mamma in Trichardt was, ds. Jako van Niekerk, ds. Jaco du Preez, ds. Danie van Rensburg, Amanda by Doves, al die vriende en familie se boodskappe van bemoediging en troos.”

Related Articles

Back to top button