Local newsNews

Ermelo Kinder- en Jeugsorgsentrum wil hul kinders gerus stel tydens afsonderingsperiode

Die huismoeder het ’n hele oggend met die kinders gesels oor hulle vrese, asook hulle veiligheidsmaatreëls bespreek.

Die huismoeders van die Ermelo Kinder- en Jeugsorgsentrum het ’n 21-dag program vir hul kinders beplan, nie net om hulle besig te hou tydens die afsonderingsperiode nie, maar ook om hul gerus te stel.

Me. Michelle van der Westhuizen, een van die huismoeders, het vertel dat die kinders bekommerd is oor hulle ouers en hul vrees oor wat die toekoms gaan inhou met die skole wat gesluit is.

“Ons moet onthou dat die kinders se vrese net so groot realiteit is.”

Die huismoeder het ’n hele oggend met die kinders gesels oor hulle vrese en hul het ook veiligheidsmaatreëls bespreek.

Daar is ’n siekekamer ingerig wat ten volle in afsondering kan funksioneer.

“Ek het ook my kamer beskikbaar gestel vir as een van die kinders dalk voel hulle het ’n bietjie spasie nodig om net hul gedagtes agter mekaar te kry en bietjie asem te skep.”

In haar kamer het sy boeke wat hulle kan lees, koeldranke om te drink en ietsie soet om aan te peusel.

Daar is ’n lekkergoedwinkel opgestel, wat op Vrydae sal oopwees.

Die kinders verdien ‘geld’ deur hul daaglikse huiswerk te doen en kan hulself dan op Vrydae bederf deur iets by die winkeltjie te koop.

Gedurende die tweede dag van die afsondering het elke kind sy eie masker gemaak, en elkeen het geleer hoe om met die naaldwerk masjien te werk.

Hulle het op 29 Maart sade geplant waarvan hul ook rekord hou van hoeveel sade geplant is, hoeveel gegroei het en hoe lank dit geneem het om te groei.

Gepaardgaande hiermee het die huismoeders kinders geleer oor wat jy saai sal jy maai en om altyd jou sade op goeie grond en nie op klippe of slegte grond te saai nie.

In die dae wat nog voorlê is daar fliekaande, koekies bak, armbande maak, oefeninge wat hulle weeklikse parkrun sal vervang, kerkdienste en soveel meer sal nog aangebied word.

Related Articles

Back to top button