Local newsNews

Ermelo Kinder- en Jeugsorg sentrum vier vanjaar 10de bestaansjaar

Gedurende die 10 jaar tot op hede, is 262 kinders gehuisves in die tydelike veilige huise, in die lang termyn huis en in die baba-eenheid, waarvan die langste plasings reeds oor meer as nege jaar strek.

Die CMR Kinder- en Jeugsorg Sentrum vier vanjaar hul 10de bestaansjaar in Ermelo.

Me. Thelma Pretorius, bestuurder van dié sentrum, het gesê: “Dit was ’n pad van vreugdes en oorwinnings, uitdagings, hartseer en teleurstelling, maar met blydskap kan ons sê dat die Here het ons tot hier gebring het.”

Sy het bygevoeg dat soos ’n kind wat leer kruip en loop, soms met nerf-af knieë en selfs hande, onseker treetjies totdat hy sy balans vind en selfversekerd loop, so het die kinderhuis gegroei in die afgelope 10 jaar.

In Januarie 2009 het hulle met “geleende” huise, vrywilligers as personeel en geen voertuie nie, die uitdaging aangepak.

Die personeel, bestuur en kinders se inligting het alles in ’n paar hanglêertjies gepas, maar het intussen gegroei en ontwikkel en het nou twee kantore, drie eenhede, vier voertuie en 17 personeellede.

“Baie dankie aan die gemeenskap en aan CMR Mpumalanga, wat ons hand vasgehou het, terwyl ons hierdie treetjies gestap het.

“Party dae was maklik, ander dae het groot uitdagings gehad wat aan ons harte en wese geruk het.

“Baie dankie aan ons donateurs. Julle is staatmakers, julle finasiële bydraes maak die verskil tussen die moontlike en die broekskeur-onmoontlike. ”

Hulle het die gemeenskap bedank vir die ondersteuning ten tye van die kinders se verjaardae, vir kerspartytjies, uitstappies, skooltasse, kruideniersware en klere.

“Ons harte loop oor van dankbaarheid teenoor elkeen wat ons gehelp het om hierdie 10-jaar mylpaal te behaal en ons hoop vir die toekoms is dat daar ’n moontlikheid sal wees om uit te brei en om ons diens beskibaar te stel vir meer kinders in nood.”

Die CMR Kinder- en Jeugsorg Sentrum is geregistreer vir 30 kinders wat sorgbehoewend is of wat deur ’n hof bevind is dat hulle beveilig en versorg moet word in alternatiewe sorg.

Gedurende die 10 jaar tot op hede, is 262 kinders gehuisves in die tydelike veilige huise, in die lang termyn huis en in die baba-eenheid, waarvan die langste plasings reeds oor meer as nege jaar strek.

Kinders vanaf pasgebore tot 18 jaar word hier geakkomodeer.

Elke aspek van hierdie kinders word voorsien op ’n 24 uur basis totdat die kind weer herenig kan word met familie of in ‘n ander alternatiewe plasing uitgeplaas word.

“Sommige kinders in die langtermyn huis het nie ’n ander heenkome nie en dit is vir ons ’n voorreg om vir hierdie kinders ’n tuiste te bied. ”

Die sentrum het vanaf 2011 ’n subsidie ​​van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ontvang, wat hulle in staat gestel het om doeltreffende diens te lewer volgens die minimum norme en standaarde vir kinder- en jeugsorgsentrums volgens die Kinderwet.

“Dankie dat u as gemeenskap ook verantwoordelikheid neem vir die kinders in ons gemeenskap wat sorg en beskerming benodig.

“Laaste dank aan ons hemelse Vader wat ons krag en leiding gee om te volhard en te doen wat Hy ons beveel het om te doen.

Om by die CMR Kinder- en Jeugsorg Sentrum betrokke te raak kan die kantoor geskakel word by 087 5500 510 gedurende kantoorure.

 

Related Articles

Back to top button