Local newsNews

Hoëvelder verwelkom Wayne van der Walt as nuwe redakteur

By vanjaar se Caxton Toekennings, waar bykans 140 koerante meeding, het hy ook Beste Nuusfoto van die Jaar gewen.

Die redakteur van die Standerton Advertiser, mnr. Wayne van der Walt, het steeds drukkersink in sy are, hoewel hy vanaf April die redakteurstoel op Ermelo sal oorneem.

Hy is die pa van ‘n agt-maande-oue baba, Thomas-Jay en sy vrou, Theressa, het haar in die motorfinansieringsbedryf bekwaam.

Sy joernalistieke loopbaan het sowat agt jaar gelede op Secunda by die Echo/Ridge Times begin waar die fasette van gemeenskapjoernalistiek hom sodanig geboei het dat hy na twee jaar bevorder is na senior joernalis en slegs ’n jaar daarna, die posisie as redakteur van die Standerton Advertiser in 2014 aanvaar het.

Met sy klem op gehalte wat redaksionele kopie, koerantuitleg, foto’s neem en advertensies betref, het die Advertiser twee jaar na sy intrede, in 2016 by die Frewin-aand die toekenning as Koerant van die Jaar ontvang.

Die koerante wat wedywer is op Middelburg, eMalahleni (Witbank), Secunda, Standerton, Ermelo, Groblersdal en Bronkhorstspruit.

By dié jaarlikse geleentheid ding koerante in die Caxton-stal mee in verskeie afdelings en sy foto’s is al in verskillende afdelings bekroon met die mees onlangse, Beste Nuusfoto asook Beste Algemene Foto vir 2018.

By vanjaar se Caxton Toekennings, waar bykans 140 koerante meeding, het hy ook Beste Nuusfoto van die Jaar gewen.

Sy belangstelling in en entoesiasme vir fotografie, wat tyd en aandag in beslag geneem het, het gelei tot die besluit om sy eie fotografiese onderneming, Wayne Thomas Photography, ook op die been te bring.

Mnr. Van der Walt sal in sy nuwe pos by die Hoëvelder, nie afwyk daarvan om hom op gehalte toe te spits nie.

“Ek wil elke week trots voel op die produk en diens wat ons aan lesers en kliënte verskaf en as daar persoonlike groei is, is dit uiteraard ook ideaal.

“Die noue band tussen adverteerders en lesers moet in stand gehou word en ek sien uit om nuwe bande te smee.

“Ek is opgewonde oor die volgende hoofstuk in my en my gesin se lewe en die uitdagings wat dit vir ons inhou.”

Hy het ter afsluiting gesê: “Watter see sal my bootjie kan sink as ek in God vasgeanker is?”

Related Articles

Back to top button