Wikus Botha streef na beste kwaliteit beeste te verskaf by Lokus Brangus stoet boerdery

Mnr. Botha het onlangs dragtigheidstoetse laat doen en kan nou spog met ’n konsepsie van 87 persent vir die teel seisoen, waarvoor hy baie dankbaar is.

Die Lokus Brangus-stoetboerdery is in 2005 deur mnr. Louis Botha op die been gebring. Sy seun mnr. Wikus Botha is sedert 2013 voltyds by die boerdery betrokke.

Die Hoëvelder het by hom gaan uitvind hoe hy die boerdery met al sy uitdagings bedryf.

Mnr. Wikus Botha was in 2011 in ‘n motorongeluk betrokke wat hom in ‘n rolstoel gelaat het.

Dit het die jong boer egter nie laat terug staan nie en hy werk vandag hard met die hulp van sy ma, me. Elsa Botha, sy drie plaaswerkers en sy aangepaste bakkie om die beste gehalte Brangusbeeste te teel.

Brangusbeeste is ‘n geharde en gewilde beesras en is geteel om die uitstekende vleisgehalte van Angus te kombineer met iets harder, soos die Brahman.

Mnr. Botha het vertel dat goeie Brangus-eienskappe is die goeie gehalte vleis, klein kalfies wat met geboorte aankom, hulle aanpasbaarheid en vinnige groei.

Mnr. Wikus Botha saam met sy ma, me. Elsa Botha op hulle plaas langs die Vaalrivier. Hy streef daarna om die beste gehalte gene in sy stoet te teel.

Boere het die Angus-gene om te bedank vir die hoë vrugbaarheid en goeie melkvermoë. Branguskoeie het ook ‘n hoë bevrugtingsyfer.

Volwasse Brangus-bulle in die Hoëveldstreek weeg gewoonlik tussen 750kg en 850kg, terwyl volwasse koeie gewoonlik sowat 500kg tot 550kg weeg.

Hy boer teen die Vaalrivier waar dit baie koud raak, met dié beeste wat op suurveld en vir die weer in die gebied aangepas en gehard is.

Mnr. Botha het onlangs dragtigheidstoetse laat doen en kan nou spog met ‘n konsepsie van 87 persent vir die teelseisoen, waarvoor hy baie dankbaar is.

Hy skryf sy sukses daaraan toe dat hy sy bulle reg selekteer by die koeie en sy streng kontrole oor die beeste.

“Ek gebruik Lamprecht Voere se lek en bulvoer. Ek pluk verseker die vrugte met uitstekende resultate sedert ek die program begin gebruik het,” het mnr. Botha vertel.

Van die vele aanpassings wat hy moes maak om die lewe op die plaas vir homself te vergemaklik, staan sy oprit waar hy in-en-uit sy bakkie klim op die stoep van sy huis en die motorhekke is aangepas vir hom om sonder die hulp van ander te gebruik.

Sy passie en liefde vir die plaas en die boerdery is duidelik soos hy die bulle op die naam voorstel en hy opgewonde uitwys watter bulle hy self geteel het.

Mnr. Botha se gunsteling tyd van die jaar is as die kalwers begin aankom en die plaas vol nuwe lewe is.

Die kalwers word deur mnr. Botha en van sy raadgewers gekeur, voordat daar besluit word watter gehou word en watter kalwers verkoop word.

“Ek slaap byna nie die aand voor die kalwers gelaai word nie. Dit is nooit lekker om van jou beeste te moet verkoop nie, maar om die beste gene en gehalte te teel, kan slegs die beste kalwers op die plaas aangehou word.”

Hy het bygevoeg dat die beeste se gene ‘n groot rol speel in die gehalte en portuur van die bees. Dit is ook een van die aspekte waaroor sy pa baie erg was.

Die boere in die omgewing is baie behulpsaam en mnr. Botha het vertel dat hulle mekaar altyd waar ‘n krisis dalk opduik, uithelp.

Om te wees waar mnr. Botha vandag met sy boerdery is, het gekom na vele harde klippe kou en hindernisse te oorkom.

“My pa het my altyd gedruk om doelwitte te stel om vooruit te gaan en sonder doelwitte sal ‘n mens stagneer,” het hy afgesluit.

Exit mobile version