Local newsNews

Kenny Mashego se liefde vir tuinmaak is aansteeklik

Hy is tans besig om tien tuine ’n week te omskep en te verbeter en het vertel dat dit nie ’n proses is wat oornag gebeur nie, hoewel jy weekliks ’n verskil sien vat dit soms sowat ’n jaar om werklik jou handewerk te aanskou.

Mnr. Kenneth Mashego, meer bekend as Kenny, geniet dit om Ermeloërs se tuine in spogtuine te omskep.

Hy het in 1997 vanaf Badplaas na Ermelo verhuis, waarna hy homself met plante en tuine begin bekend maak het.

Mnr. Mashego is die afgelope 18 jaar as ‘n tuinier werkend en geniet dit om elke dag nuwe uitdagings aan te pak.

Hy het vertel dat hy baie ondervinding op gedoen het by die vorige huiseienaar in wie se tuin hy gewerk het, maar het bygevoeg dat hy meeste van sy kennis oor tuine en plante in boeke geleer het.

“Ek is baie lief daarvoor om tuinboeke te lees en so te leer oor plante en verskillende uitlegte van tuine,” het mnr. Mashego vertel.

Hy het gesê dat hy die idees wat hy in die boeke raaklees, altyd verander en aanpas om dit sy eie kenmerke te gee.

Een van die vroue wie se tuin hy omskep het, me. Sue Nel, het vertel dat hy ‘n oog het vir goeie uitleg en skroom nie om te sê as sekere plante op die verkeerde plek geplant is, of nie by die ander plante pas nie.

Hy is tans besig om 10 tuine ‘n week te omskep en te verbeter.

Hy het vertel dat dit nie ‘n proses is wat oornag gebeur nie, hoewel jy weekliks ‘n verskil kan sien, vat dit soms sowat ‘n jaar om werklik jou handewerk te kan aanskou.

Mnr. Mashego geniet dit om in ‘n tuin te begin werk, waar daar voorheen geen tuin was nie en sien dit as ‘n skoon “canvas” wat hy moet opbou.

Sy gunsteling plant is ‘n Privet wat hy ook sy eie idee aangegee het, deur die plant te snoei en te vorm om heinings te groei.

“Baie mense weet nie dat dit eintlik ‘n onkruid plant is nie, terwyl ander baklei en vra hoekom ek dit plant, maar as hulle eers sien hoe mooi en dig die plant word as hy reg gesnoei word, is hulle verstom.”

Volgens hom groei die Privet vinniger as ander heiningplante en kan ook makliker gesnoei word.

Sy vrou en kinders deel ook in sy liefde vir tuinmaak en die gesin is gereeld besig om saam aan hulle eie tuin te werk. Mr Mashego kweek ook plante in sy tuin wat hy weer in ander mense se tuine gebruik.

“Die lekkerste van tuinmaak is om foto’s te neem voor ek met ‘n tuin begin en maande later die foto’s te vergelyk en te sien hoe die tuin verbeter het en hoe die plante gegroei het,” het mnr. Mashego afgesluit.

Mr Kenny Mashego is op sy gelukkigste in ‘n tuin. Hy geniet dit om mense se tuine oor te doen en te versorg.

Related Articles

Back to top button