Nelstehuis-koshuis is gekroon as Hoërskool Ermelo se groentjiekonsert wenners

Dorp het eerste hul opwagting gemaak met die tema “Braveheart”, daarna was dit Nelstehuis se beurt en dié koshuis het “Grease” as hul tema gekies, waarna Veltman aan die beurt was en die jongmanne se tema “Special Force, USA” het groot indruk gemaak.

Hoërskool Ermelo het op Woensdagaand, 13 Maart, die huise se alombekende groentjiekonsert aangebied.

Die dirigente van die onderskeie huise het die dag se verrigtinge met ‘n aankoms op EHS se teerblad afgeskop.

Die gees was aansteeklik en het vir gesonde kompetisie tussen die onderskeie huise gesorg.

Na die geesvang op die teerblad, het die optog na Laerskool JJ van der Merwe begin om die jongspan ook ‘n blik op die opwinding van Errie-wees te gee.

Dorp het eerste hul opwagting gemaak met die tema “Braveheart”, daarna was dit Nelstehuis se beurt en dié koshuis het “Grease” as hul tema gekies, waarna Veltman aan die beurt was en die jongmanne se tema “Special Force, USA” het ‘n groot indruk gemaak.

Arnaud Champaud, Adriaan Davel en Matthew Haggemeier van Veltman-koshuis in aksie tydens Hoërskool Ermelo se groentjiekonsert. (Foto: Verskaf)

Die groentjiekonsert vir die leerders het die aand plaasgevind.

Die tema van die konsert was op Dinsdag, 26 Februarie aan die onderskeie huise meegedeel.

Legende, integriteit, proppies en pionne is as temas gekies asook ‘n superheld (Wonder Woman, Superman en Catwoman) wat elke huis as karakter moes inspan.

Daarmee saam moes elke konsert ‘n graad 8-groepdans, advertensie en nuusberig insluit.

Die skryf van die toneelstukke, die voorbereiding en afrigting daarvan, die reëlings, dekor en kostuums tot die uitwerk van danse was alles die leerders se verantwoordelikheid.

Intussen was leerders agter die skerms ook nog met akademie, sport en kultuur besig.

Die uitdaging is jaarliks vir die Erries ‘n enorme leerskool waar hul kreatiwiteit, uithouvermoë, leierskap, menseverhoudings en beplanningsvaardighede geslyp en behoorlik op die proef gestel word.

Daar is op die dag van die groentjiekonsert ook aan elke huis ‘n verrassingselement gegee wat in die konsert geïnkorporeer moes word.

Mienke Cloete van Nelstehuis is aangewys as die beste storieverteller tydens Hoërskool Ermelo se groentjiekonsert. (Foto: Verskaf)

EHS se groentjiekonsert is jaarliks ‘n ongelooflike belewenis en die gemeenskap staan keer-op-keer verstom oor waartoe die leerders in staat is en die uitsonderlike kwaliteit van die konsert.

Die bekendmaak van die groentjiekonsert se uitslae is ‘n baie senutergende aangeleentheid.

Huis Veltman het die pryse vir beste dirigente, beste advertensie en beste nuusberig gewen.

Die prys vir die beste akteur is aan Arnau Champaud, ‘n Veltman-graad 8 leerder, toegeken.

Dorp het die pryse vir die beste uitbeelding van die tema, beste kostuums en, saam met Nelstehuis, die beste dekor gewen.

Nelstehuis het vanjaar uitgeblink en het die pryse vir die beste huisdans, beste groentjiedans, beste humor, beste gebruik van die verrassingselement, beste dekor (deel met Dorp), beste konsert, asook twee individuele pryse vir die beste aktrise, Johnke Prinsloo, en die beste storieverteller, Mienke Cloete ingeryg.

Nelstehuis het met die louere as algehele wenners van 2019 se groentjiekonsert weggestap.

Die groep dirigente van Hoërskool Ermelo het gesorg dat die gees hoog loop tydens die oggend van die groentjiekonsert. (Foto: Verskaf)
Exit mobile version