Opwindende toekoms lê vir die kinder- en jeugsorgsentrums op Ermelo voor

“Die huise en huishoudings is dieselfde en het dieselfde behoeftes as enige ander ouerhuis, die enigste verskil is dat daar net meer klere, kos en skoonmaakmiddels benodig word.”

Die kinder- en jeugsorgsentrum in Vlokstraat op Ermelo het onlangs vir me. Charmyn Johnson en me. Lucia Kubeka as nuwe huisouers verwelkom.

Me. Johnson, wat aangestel is as die inbly Kinder- en Jeugsorgassistent sien uit na die verskil wat sy in elke kind se lewe kan maak.

Sy is gebore in Calvinia en het daar skoolgegaan, ná skool het sy by ‘n ouetehuis begin werk.

Die personeel het gesien dat sy soveel geduld en liefde vir die bejaardes in die tehuis het, en het om haar te laat oplei as ‘n bejaarde versorger, aangebied.

Sy en haar man het in 2003 na Ermelo verhuis, waar sy na mense se kinders omgesien het.

Hulle het weer Kaap toe verhuis, maar gou besef dat hulle nie meer daar aanpas nie en Ermelo weer hulle tuisdorp gemaak.

Me. Johnson het op Vrydag, 1 Maart by die huis aangesluit, nadat sy van die beskikbare pos by Ermelo Oos-gemeente gehoor het. Sy het vertel dat dit vir haar ‘n goeie uitdaging is om vir soveel kinders verantwoordelik te wees.

“Ek weet dat my hulp van die Here af kom en ek bid elke dag vir die wysheid, insig en liefde vir elke kind,” het me. Johnson vertel.

Me. Lucia Kubeka is aangestel as die Kinder- en Jeugsorgwerker by die huis.

Haar passie en liefde vir kinders wat trauma beleef het, is die rede dat sy verder as ‘n kinder- en jeugsorgwerker studeer het.

Sy is oorspronklik van Kwaggafontein, waar haar familie steeds woonagtig is.

Sy het haar twee jaar kursus vir NQF vlak 4 in kinder- en jeugsorg by Isibindi, wat ook deel vorm van die Departement van Maatskaplike Werke, voltooi.

“Ek het ‘n passie vir kinders in nood en het gevoel dat ek ‘n groot aanwins vir die kinders in Ermelo kan wees, omdat ek nog jonk is en hulle maklik met my kan gesels,” het me. Kubeka gesê.

“Die twee huisouers het al goed aangepas by die huis asook by die kinders, en is ons dankbaar vir die groot bydrae wat hulle alreeds by die huis maak,” het me. Thelma Pretorius, bestuurder van die kinder- en jeugsorgsentrums op Ermelo, gesê.

Sy het bygevoeg dat hulle mekaar se sterk- en swakpunte goed aanvul.

Die huis het in 2009 ontstaan toe die CMR-kantore die behoefte gehad het vir ‘n veilige hawe vir kinders wat verwyder is, sonder om die kinders uit die dorp na ‘n ander hawe te stuur.

Daar is 13 kinders in die huis in Vlokstraat, vanaf die ouderdom van drie jaar tot 17 jaar, en die ander huis het 10 kinders en ses in die baba-afdeling.

Die grootste deurlopende behoeftes by die kinder- en jeugsorgsentrums is klere, toiletware en huishoudelike items.

Die klere wat benodig word se grootte is vanaf pasgebore tot ‘n 34, en die skoen wat benodig word is tot en met ‘n volwasse nommer 8.

‘n Ander behoefte wat hulle ook ervaar is vrywilligers wat betrokke kan raak om kinders te vervoer na aktiwiteite met huiswerk, herstelwerk in-en-om die huise, en ook om tyd saam met die kinders te spandeer.

“Die huise en huishoudings is dieselfde en het dieselfde behoeftes as enige ander ouerhuis, die enigste verskil is dat daar net meer klere, kos en skoonmaakmiddels benodig word.”

Me. Pretorius het die gemeenskap ook genooi om haar te kontak om ‘n afspraak te maak om die huise te besoek.

Sy het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om hulself as vakansie-ouers of naweekouers beskikbaar te stel om die kinders gedurende vakansies uit die huise te kry, om so blootstelling aan die lewe buite die huis te kry.

“Ons is dankbaar en positief oor wat die toekoms vir die huise inhou,” het me. Pretorius afgesluit.

Indien enige iemand by die huise betrokke wil raak, kan hulle me. Pretorius skakel by 087 550 0510.

Exit mobile version