Carien Schabort is aangewys as Tambuki vrou van die jaar tydens VLU konferensie wat op Ermelo plaasgevind het

“Hulle sê altyd die Zentangle is soos meditasie, maar my skets was meer van ‘n irritasie,” het me. Schabort laggend vertel.

Me. Carien Schabort het tydens die Vroue Landbou-unie Tambuki-streek (VLU) se jaarlikse konferensie die leisels van Tambuki Vrou van die Jaar by me. Lenie Groenewald oorgevat.

Die konferensie is op Saterdag, 23 Februarie deur Talento Mulher-tak op Ermelo aangebied.

Me. Schabort is sedert Augustus 1996 aan die VLU verbonde, omdat sy iets nodig gehad het om haar deur die dag besig te hou.

Sy het ‘n groot liefde vir enige kunswerk en geniet om foto’s te neem en koeke te bak.

Me. Groenewald het haar beskryf as iemand wat altyd haar beste doen en altyd waar nodig, ‘n hand bysit.

Sy is ook die hoogste gekwalifiseerde beoordelaar in Tambuki-streek sowel as in Mpumalanga en kan alle kategorieë beoordeel behalwe die blomme-afdeling.

Elke jaar word daar ‘n kat-trofeë uitgedeel vir die lid wat die meeste punte tydens ‘n konferensie behaal het, die vorige trofeë is aan haar geskenk nadat sy dit vir die vyfde jaar agtereenvolgend ontvang het.

Sy geniet om ander lede te leer en mense bekend te stel aan afdelings waaraan hulle nie gewoonlik sou deelneem nie.

Oor die jare het me. Schabort al vele blapse gehad wat al vir ‘n goeie lagsessies gesorg het. Dit het haar egter nooit laat moed verloor nie, maar eerder harder laat werk om die volgende item ‘n sukses te maak.

Een van die afdelings waarvan sy glad nie hou nie is die Zentangle-sketse. ‘n Zentangle-tekening is ‘n abstrakte tekening wat geteken word deur gebruik te maak van herhalende patrone volgens sekere vereistes.

“Hulle sê altyd die Zentangle is soos meditasie, maar my skets was meer van ‘n irritasie,” het me. Schabort laggend vertel.

Sy is ‘n vrou wat daarvan hou om uit die boks te dink en haar items lyk gewoonlik baie anders as van die ander lede se artikels.

Die Vrou van die Jaar word gekies deur al die takke van Tambuki-streek wat nominasies instuur.

Me. Groenewald het haar jaar afgesluit deur ‘n kombers wat sy tydens ‘n brei-maraton gebrei het aan die oudste lid van Tambuki-streek, me. Miems Locks, oorhandig het.

Exit mobile version