Maans Marais gekies om aanbieding in Lisbon te doen

Hy het reeds sy Meesters-graad en is tans besig met sy doktorale graad in Chemiese Ingeneurswese.

Mnr. Maans Marais (28), ‘n oud-Errie se voorlegging oor die “Valorisation of waste lignin for Phenol derivative compounds using hydrothermal liquifaction”, is gekies vir ‘n visuele plakkaataanbieding wat Mei vanjaar in Lisbon, Portugal sal plaasvind.

Sy voorlegging is gekies uit die duisend wetenskaplike en industriële voorleggings wat voorgelê is vir die 27ste Europese Biomassa-konferensie en uitstalling.

Die EUBCE komitees wat saamgestel is uit meer as 150 voorste kundiges uit die biomassa-gemeenskap, het die voorleggings hersien en gekeur.

Tydens die voorleggingsessies sal die skrywers van die voorleggings versoek word om teenwoordig te wees.

Elke sessie word gelei deur die voorsitter, wat die skrywer toelaat om hul plakkaat binne drie minute aan te bied. Die kandidaat het die kans om die beste Visuele Aanbieding vir 2019 te wen.

Die kandidate sal ‘n week in Portugal wees om die voorleggings te doen.

Mnr. Marais is ‘n gebore Ermeloër en het sy skoolloopbaan by Laerskool JJ van der Merwe afgeskop en by Ermelo Hoërskool gematrikuleer as een van die top 10 leerders, waarna hy by die Noordwes-Universiteit (Pukke) in Potchefstroom Chemiese Ingeneurswese gaan studeer het.

Hy wou oorspronklik in ‘n forensiese-rigting ingegaan het, maar het na hy die toetse geslaag het vir toelating tot Chemiese Ingeneurswese, besluit om eerder in dié rigting verder te studeer.

Sy pa, mnr. Maans Marais beskryf hom as ‘n stil, beskeie jong man wat baie gefokus is op sy studies.

Hy het reeds sy meesters-graad en is tans besig met sy doktorale graad in Chemiese Ingeneurswese.

“Ons het hom na skool by die universiteit afgelaai en vir hom gesê dat die wêreld vir hom ooplê en dat hy die meeste daarvan moet maak. Hy besluit ook nog of hy verder wil studeer as ‘n professor,” het sy pa vertel.

Sy ouers is baie trots op sy prestasies en het hom alle sterkte toegewens vir die voorlegging wat vir hom voorlê.

Exit mobile version