Inwoners van Ermelo is bekommerd oor die toestand en agteruitgang van die Petdam

Die gereelde invloei van rioolwater veroorsaak dat ’n kombers van groen alge amper daagliks die oppervlak van die dam te sien is.

Rioolwater van ‘n geblokte drein wat weereens in die Petdam in Ermelo instroom het, is Dinsdag, 5 Februarie onder die Hoëvelder se aandag gebring.

Dit is ‘n herhalende probleem en is een van talle terreine in Ermelo waar riooloorspoelings gereeld plaasvind.

“Dink net hoeveel liters rioolwater stroom daagliks in die dam in. As dit vir die volgende tien maande so aangaan sonder dat enige iets aan die probleem gedoen word, sal die dam geen lewe oorhê teen die tyd wat die winter aanbreek,” het ‘n inwoner aan die Hoëvelder gesê.

Die gereelde invloei van rioolwater veroorsaak dat ‘n kombers van groen alge amper daagliks die oppervlak van die dam te sien is.

Die plastiekbottels en ander rommel lê op die laag alge naby die inloop van die Petdam in Ermelo.

Die gevolglike waterbesoedeling veroorsaak dat die kwaliteit van die water versleg en kan later ook ‘n invloed hê op die suurstof wat deur die water opgeneem word.

“Dit plaas die hele ekologiese sisteem in en om die dam onder groot gevaar.” het ‘n ander inwoner vertel.

Dit is slegs een van die vele probleme waaronder die Petdam skade lei.

Met verdere ondersoek by die dam is daar ook talle plastiekbottels en ander rommel by die riete naby die invloei van die dam gesien.

Die oppervlakte van die dam is permanent met rommel bestrooi wat deur inwoners naby die dam agter gelaat word en deur die wind in die water gewaai word.

Na die onlangse visvrektes by die dam het mnr. Johan Coetser, hoof natuurbewaarder van die Mpumalanga Toerisme en Parkeringsagentskap gesê dat dit gewoonlik voortspruitend is met die skielike temperatuur veranderings.

Die kombers van groen alge is amper daagliks op die oppervlak van die Petdam op Ermelo te sien.

Sommige inwoners van Ermelo is egter van mening dat die hoeveelheid rioolwater wat in die dam inloop ook ‘n groot invloed gehad het op dié vrektes.

Inwoners wat in die omgewing van die dam woon rig gereeld klagtes oor die harde musiek wat soms tot vroeg in die oggendure gespeel word, terwyl daar naby die openbare swembad en by die SportInn gekuier word.

Hoewel die munisipaliteit verantwoordelik is vir die instandhouding van die dam, is ‘n inwoner wat anoniem wil bly van die mening dat elke Ermeloër wat van die dam gebruik maak, verantwoordelik om agter hulself op te ruim en skoon te maak.

Volgens die inwoner is die pyp wat sedert einde verlede jaar rioolwater in die dam gespoel het, begin van die week herstel.

Die Hoëvelder het navrae by Msukaligwa Munsipaliteit gedoen oor die instandhouding van die dam.

Hul het gesê: “Msukaligwa Munsipaliteit se Gemeenskaps- en Maatskaplike Dienste Direktoraat, is verantwoordelik vir die instandhouding van die Petdam.

“Die munisipaliteit versoek gemeenskapslede om enige rioolverwante kwessies via die munisipale-oproepsentrum aan te meld.

“Nadat die probleem aangemeld is, het die munisipaliteit ‘n span uitgestuur om ondersoek in te stel en die blokasie te open.

“Ons het eers van die probleem bewus geraak, nadat dit deur die Highvelder onder ons aandag gebring is.”

Die kombers van groen alge is amper daagliks op die oppervlak van die Petdam op Ermelo te sien.
Exit mobile version