Local newsNews

Allison van der Walt gebruik haar liefde vir modelwerk om jong meisies se lewens te verander

Hoewel sy voel dat die meisies in die stad baie meer geleenthede het as die plattelandse meisies, voeg sy ook by dat die meisies in Ermelo vir niks terugstaan nie.

Me. Allison van der Walt bedryf sedert 2010 Blush Models in Ermelo, waar sy nie net fokus op modelwerk nie maar ook op selfbeeld en etiket van jong meisies.

Sy het haar man, mnr. Nicky van der Walt, in Durban ontmoet en na hulle troue na Ermelo verhuis waar hy kom boer het.

Met hulle aankoms in Ermelo het sy getwyfel oor wat haar doel in die dorp sou wees, omdat sy met die lewe in die stad vertroud was.

“Ek het bly bid dat die Here vir my wys wat ek hier in Ermelo moet doen en wat die behoefte hier is,” het me. Van der Walt vertel.

Sy het tehore gekom van ouers wat ‘n behoefte het vir ‘n plek waar hulle kinders hulle selfbeeld en vertroue in hulself kan opbou en het besluit om haar agtergrond van modelwerk en skoonheidskompetisies te gebruik om haar modelskool te open.

Haar loopbaan as ‘n model het in 1988 afgeskop op so ‘n jong ouderdom dat sy al haar kursusses twee keer gedoen het, waarna sy in 1997 die ‘New Face’ kompetisie gewen het.

“Ek het so groot liefde vir dit gehad dat ek nie omgegee het om elke kursus twee keer te doen nie. Ek is glad nie sportief soos my man en kinders nie, so modelwerk was altyd my passie.”

Me. Van der Walt het ‘Mej SA Teen’ in 1999 gewen en was ook een van die top 10 finaliste van Mev Suid-Afrika in 2009.

‘n Opwindinde tyd in haar loopbaan was in 1997 en 1998 toe sy en haar suster met ‘YO Models’ in Japan, en ook met ‘Traffic Models’ in Spanje kontrakte geteken het, en in verskeie tydskrifte en mode artikels verskyn het.

Met haar liefde vir kinders en modelwerk het sy die skool met vyf meisies afgeskop.

Me. Allison van der Walt bedryf Blush Models modelskool in Ermelo sedert 2010 en poog om elke meisie wat deur haar deure stap se lewe te verander. (Foto verskaf)

Sy verkies om haar klasse in groepe van tien leerders aan te bied om aan elke kind individuele aandag te gee en elke kind se behoeftes te identifiseer.

“Ek wil ‘n verskil in elke jong meisie wat my pad kruis, se lewe maak.”

Haar grootste getuienis is van ‘n jong meisie wat se selfbeeld baie afgekraak was deur kinders wat haar by die skool gespot het, tot so ‘n mate dat sy glad nie meer wou glimlag nie.

Haar ma het besluit om haar by ‘Blush Models’ in te skryf en me. Van der Walt het saam met haar begin werk om haar te bemoedig.

“Die kind blom vandag, sy het selfs nou ingeskakel vir redenaars by haar skool.”

Haar hoogtepunte sedert sy die skool geopen het is elke positiewe terugvoering wat sy van die ouers ontvang.

“Ander hoogtepunte is my modelle soos Zané Kleynhans, my dogter Hayley van der Walt en Linhle Nkosi wat al groot kompetisies gewen het.”

Hoewel sy voel dat die meisies in die stad baie meer geleenthede het as die plattelandse dogters, voeg sy ook by dat die dogters in Ermelo vir niks terugstaan nie.

Soos me. Van der Walt vertel van elke kind in haar klas, helder haar oë van opgewondenheid en straal haar liefde vir elke kind uit.

Om die ‘Mej Skou’ aan te bied is vir haar ‘n groot eer, omdat dit ‘n kans skep vir alle meisies om aan ‘n skoonheidskompetisie deel te neem.

Sy is sedert 2010 betrokke by die Hoëveld Landboufees en bied dit die afgelope vyf jaar aan.

Sy nooi alle meisies om in te skryf vir die geleentheid.

Die kompetisie is oop vir alle dogters vanaf vier jaar en inskrywing sluit Dinsdag, 5 Maart.

Me. Allison van der Walt sien uit om vanjaar weer die ‘Mej. Skou’ by Hoëveld Landboufees wat 7 tot 9 Maart plaasvind, aan te bied. (Foto verskaf)

Related Articles

Back to top button