Local newsNews

JP Putter van Ermelo is gebore met ’n gesplete lip en verhemelte

Die mediesefonds wat die egpaar tans beskik, betaal slegs sekere prosedures en dokters, daarom is daar 'n trustfonds by Pas-prokureurs geopen om geld in te samel vir die operasies wat op die klein lyfie wag.

Klein JP Putter is op Vrydag, 21 Desember in Ermelo Provinsiale Hospitaal met ‘n gesplete lip en verhemelte gebore.

Dié het as ‘n groot skok vir sy ouers maar ook die dokters wat die bevalling gedoen het.

Hy was skaam gewees met elke sonar wat sy ouers laat doen het en het sy gesiggie weggedraai. Die pienkvoet het selfs sy ouers laat wonder of hulle ‘n seun of dogter ryker gaan word tot twee weke voor sy geboorte.

Me. Carina Putter het aan die Hoëvelder vertel dat die dokters haar en haar man, mnr. Victor Putter mooi voorberei het en met elke tree ondersteun het.

“Ek het dadelik gevoel dat dit my skuld is en dat dit dalk iets is wat ek verkeerd gedoen het, maar die dokters het my gerus gestel dat daar soveel ander redes kan wees vir so ‘n geval,” het me. Putter gesê.

Die vorming van die lip en die verhemelte is ‘n baie komplekse proses wat gedurende die eerste drie maande van swangerskap plaasvind.

Foto: Monica Liebenberg

In sommige gevalle is daar familiegeskiedenis van splete, maar in die meeste gevalle is daar nie ‘n enkele oorsaak nie.

Me. Putter se mediesefonds het nie haar bevalling gedek nie, maar Klein JP is dadelik na sy geboorte oorgeplaas na Ermelo Medi Clinic.

Die personeel wou hom op buisvoeding plaas, maar een van die sisters het die ouerpaar ingelig van ‘n spesiale bottel vir kinders wat gebore is met ‘n gesplete lip en verhemelte.

“Ons was gelukkig om by een van die plaaslike apteke ‘n bottel te kry, wat die voeding baie verbeter het. Die bottels kan selfs vir kinders met ‘Down-sindroom’ gebruik word.”

Sy ouer broer, FJ, geniet elke oomblik saam met die nuwe jongeling in die huis. Me. Putter is verstom oor hoe goed haar twee-jarige seun dit hanteer.

“Ek was bang dat hy dalk sy boetie anders sal hanteer of sal wys dat boetie ‘n seerplek het, maar hy deel te graag soene en drukkies uit en is baie geheg aan sy boetie.” Me. Putter het haar soektog na die beste dokters begin en by prof. Kurt Bütow van die Universiteit van Pretoria uitgekom.

“Ek het gevoel dat dit ‘n sensitiewe plek is wat geopereer moet word en wil graag die beste mediese sorg vir hom kry.”

Hulle is genooi na ‘n ‘facial cleft deforming clinic’, waar daar ‘n mondplaatjie aan JP geskenk sal word, om sy voeding te verbeter.

Die gesin het Dinsdag, 29 Januarie ‘n afspraak by die dokter waar hulle die volgende stap na sy herstel sal bespreek en beplan.

Die Putter-gesin is nog onseker oor wat die pad inhou maar sy ouers wil seker maak dat hy die beste moontlike behandeling kry.

Die grootste aanpassing wat die gesin moes aanleer is dat voedingstye langer neem as met ander babas. Hy kan as gevolg van die gesplete verhemelte, nie asem haal terwyl hy drink nie.

Die mediesefonds wat die egpaar tans beskik, betaal slegs sekere prosedures en dokters, daarom is daar ‘n trustfonds by Pas-prokureurs geopen om geld in te samel vir die operasies wat op die klein lyfie wag.

Die rekening word kosteloos deur die maatskappy behartig en alle donasies word aangewend vir die mediese uitgawes van JP.

Die rekening waarin donasies gemaak kan word is; Pieter Stoffberg Ingelyf Trust, Trustrekening, FNB, Ermelo, Rekeningnommer: 62092150326, takkode: 270344, verwysing: JP Putter. 

Me. Putter het dr. Sameul van Zyl bedank vir sy behulpsaamheid en omgee wat hy teenoor hulle as gesin getoon het, asook haar werkgewers wat haar tegemoed kom in die tyd wat vir hul voorlê.

‘n Facebook-bladsy met die naam “Donate a smile for JP Putter” is oopgemaak waarop sy vordering gevolg kan word.

“Daar lê nog so baie vir die klein lyfie voor, maar dit maak nie saak of mense hom dalk snaaks gaan aankyk en duisende vrae vrae nie. Hy is volmaak en ‘n geskenk van God,” het me. Putter afgesluit.

Foto: Monica Liebenberg

Related Articles

Back to top button