Dokter in Amerika is Monya se laaste hoop met onbekende kanker

Sy is verwys na ’n spesialis, dr. Fojo, van die Columbia Universiteit se mediese sentrum in New York (CUMC). “Hy is my dogter se laaste hoop.”

Mnr. Danie en me. Ina Bentz, oud Ermeloërs van bykans 56 jaar, beleef tans ‘n ernstige persoonlike krisis met die siekte van hul dogter, me. Monya Clark.

Me. Clark, het in September 2014, slegs ses maande na haar babadogtertjie se geboorte ernstige hoofpyne ondervind en is meegedeel dat dit slegs tekens is van griep of verkoue.

Sy is egter ‘n week later geopereer en na ‘n sewe uur operasie het die dokters ‘n gewas wat sowat een kilogram geweeg het, op haar bynier aan die linkerkant verwyder.

Me. Clark het met behandeling begin en haar medikasie is vanaf Amerika ingevoer.

Die kanker wat haar liggaam aanval, is onbekend aan die dokters en na verdere skanderings, is daar besluit om met bestraling te begin.

Na die kanker haar organe begin aanval het, het sy in 2016 verdere operasies ondergaan en is haar verslae na die buiteland gestuur vir ontleding met die hoop dat hulle dalk antwoorde het op die onbekendheid, maar haar toestand is nêrens gelys nie en daar is op verdere chemoterapie-behandeling besluit.

Me. Clark het ‘n jaar lank mediese ongeskiktheidsverlof van haar werkgewers ontvang en het vroeg in Januarie 2017 terug by die werk aangemeld.

Haar ma, me. Ina Bentz het aan die Hoëvelder vertel dat haar dogter gedurende haar ongeskiktheidsverlof en wanneer haar toestand dit toelaat, kursusse in personeelbestuur bygewoon om haar tyd doeltreffend te gebruik.

Met haar laaste ondersoek in Oktober 2018, het dokters haar meegedeel dat hulle nie verdere behandeling of operasies kan doen nie.

“Daar is niks meer wat hulle vir haar kan doen nie, maar my dogter is ‘n vegter en het haar nie laat onderkry nie. Sy het verder haar eie navorsing oor die kanker en mediese dokters in die buiteland gedoen,” het haar ma, me. Bentz vertel.

Sy is verwys na ‘n spesialis, dr. Fojo, van die Columbia Universiteit se mediese sentrum in New York (CUMC).

Hy spesialiseer in die behandeling van haar unieke soort kanker, en sy sal egter na die buiteland moet reis om hom te kan sien en om verdere toetse te ondergaan.

“Hy is my dogter se laaste hoop.”

Me. Clark het haar skoolloopbaan by Laerskool JJ van der Merwe afgeskop en aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer.

Sy is in 2009 met mnr. Brent Clark van Kaapstad in die huwelik bevestig.

Haar ma het vertel dat haar dogter positief en sterk probeer bly vir haar kinders, Brendan (8) en Morgan (4).

Een van me. Clark se boesemvriendinne, me. Lizette Lombard het haar voorgestel aan die ‘BackaBuddy‘-stigting en sy het dadelik haar storie gedeel en ‘n fonds is gestig met die hoop om die nodige geld in te kan insamel om dit vir haar moontlik maak om dr. Fojo te kan besoek.

Haar ma het vertel dat sy sowat R150 000 benodig om na Amerika te reis om die dokter te sien.

Indien enige iemand wil bydrae om me. Clark in Amerika te kry vir die behandeling wat sy dringend benodig, kan hulle haar profiel op ‘BackaBuddy’ besoek by https://www.backabuddy.co.za/monyas-cancer-treatment en donasies daar maak of haar ma, me. Bentz skakel by 082 460 3851.

“Ons wil asseblief elke leser vra om my dogter en haar gesin in julle gebede op te dra. Ons weet dat sonder hulp van God, sal die projek nie slaag nie.”

Me. Monya Clark, ééns Bentz benodig hulp om geld in te samel om verdere toetse te ondergaan in Amerika met die hoop dat daar antwoorde is vir haar onbekende kanker. (Foto: Verskaf)
Exit mobile version