GeneralLocal newsNews

Mekayla Steenkamp se toestand steeds onverklaarbaar

“Die klein geraamtetjie met die groot groot blou oë op die spierwitlakens kan nie verstaan hoekom huil haar mamma as sy haar was en aantrek nie en sy skroom ook nie om vir my te sê dat mamma maar kan ophou huil nie want Jesus maak haar dan gesond.”

Mekayla Steenkamp wat Dinsdag, 15 Januarie vyf jaar oud sal word, se toestand het sedert Desember vererger met ’n reeks onverklaarbare toestande wat hoë infeksietellings, vog wat ophoop in haar buikholte, ’n sist wat gevorm het en drastiese gewigsverlies, insluit.

Sy is reeds voor haar geboorte met hidrokefalis gediagnoseer.

Hidrokefalis is ’n toestand waar die natuurlike vog in-en-rondom die brein nie deur die normale kanale gedreineer kan word nie, weens verskillende redes.

’n Dreineringspypie is op die ouderdom van sowat vyf maande ingeplaas om die vog vanaf Mekayla se brein na haar buikholte te dreineer waar dit deur die liggaam se normale meganismes verwyder en uitgeskei word.

Sy het in Oktober verlede jaar begin siek raak en haar ouers het haar na die ongevalle-eenheid by Midmed Hospitaal in Middelburg geneem, waarna onophoudende bloedtoetse, x-strale, skanderings en sonars gevolg het.

Die gewas wat uit haar buik verwyder is, was die grootte van ’n tennisbal en het vermoedelik ontwikkel van die “shunt” se pypie wat gelek het.

Ná die operasie het Mekayla moedig bly veg teen infeksie en het selfs vir ’n week haar eie antibiotika deur die kanule in haar handjie ingespuit.

“Haar bakterie-telling was meer as 400 en ons glo dit is net genade van ons Hemelse Vader dat die infeksie nie na haar brein verspei het nie,” het haar ma, me. Anja Steenkamp vertel.

Met ’n opvolg sonar toon dit dat die vog wat na haar buikholte dreineer word en op ’n natuurlike wyse deur haar liggaam geabsorbeer moet word, nie absorbeer nie.

Sterk antibiotika is aan haar gegee om die hoë bakterielse-infeksie te beveg en sy is ontslaan uit die hospitaal.

Sy is Vrydag, 14 Desember weer in die hospitaal opgeneem met erge hoofpyne en braking en ’n CT-skandering het getoon dat haar “shunt” geblok is, maar met die aankoms by die volgende hospitaal waarheen sy oorgeplaas is, het die dokters bevestig dat dit nie die geval is nie.

Mekayla het skielik en drasties gewig verloor en is op buisvoeding geplaas.

Sy weeg tans ’n skrale 12kg.

“Die klein geraamtetjie met die groot groot blou oë op die spierwitlakens kan nie verstaan hoekom huil haar mamma as sy haar was en aantrek nie. Sy skroom ook nie om vir my te sê dat ek maar kan ophou huil nie want Jesus maak haar tog gesond,” vertel Me. Steenkamp.

Sy word steeds daagliks geobserveer en toetse word gedoen om antwoorde te kry vir die raaiselagtige siklus wat homself herhaal.

Haar ouers vertel dat hulle gedra word deur vriende en familie wat gereeld gebede op haar vorderingsgroep op sosiale media plaas en hul bystaan met Mekayla en ook met haar jonger broer, Jayden.

“Sonder al die mense se ondersteuning en ons geloof in die Here, glo ek nie ons sou dit tot sover gemaak het nie.”

Me. Steenkamp het vertel dat hulle ook tyd maak om by hom te wees, omdat hy nie in Mekayla se saal toegelaat word nie.

“Hierdie lyfie hét nie meer reserwes oor om mee te baklei nie, help ons asseblief om genoeg geld bymekaar te kry sodat ons hierdie klein vegtertjie by die regte spesialiste kan uitkry,” het haar ouers gepleit.

’n Hulpfonds is gestig by Ströh Coetzee Prokureurs, wat dit ook administreer om die nodige geld vir Mekayla te genereer, sodat sy die beste mediese sorg kan ontvang.

Die bank besonderhede is:

Rekeningnaam: Mekayla Steenkamp Hulpfonds,

Standard Bank,

Rekeningnommer 033003580,

Takkode 051 001.

Related Articles

Back to top button