MunicipalNews

Gebrek aan dienslewering laat baie vrae by inwoners op Ermelo

’n Inwoner het aan die Hoëvelder vertel dat sy nie meer kans sien om haar geliefde te besoek nie as gevolg van die mense wat gedurig op die mure om die begrafplaas sit en besoekers uitlag.

Ermelo het die afgelope jaar deurgeloop onder betogings wat verband hou met dienslewering in en om Ermelo.

Op elke hoek en draai staan ‘n kragboks of kiosk wawyd oop, wat na bewering, al verskeie kere deur inwoners gerapporteer is.

Hieroor is daar al menigte berigte geskryf en in vorige navrae is daar genoem dat dit in die munisipaliteit se beplanning is om in die nabye toekoms met herstelwerk te begin.

Dit is egter nog onduidelik wanneer herstelwerk aan kragbokse beplan word.

Inwoners wat naby een van die laerskole op Ermelo woon, het aan die Hoëvelder genoem dat dit geen ongewone gesig is om kinders te sien speel by oop kragbokse nie.

Die kragboks in Tienie Louwstraat het inwoners in die donker gelaat nadat dit aan die brand geslaan het.

“Die kinders het geen benul van die gevare wat die kragbokse inhou nie. Wie gaan verantwoordelikheid aanvaar indien een van die kinders ernstig beseer word?,” het sy gesê.

Ontydige kragonderbrekings laat te dikwels inwoners in die donker met geen duidelike antwoord nie.

Jo-jo tenks in die agterwerf van inwoners het ‘n algemene gesig geword. Daar is onlangs berig oor die waterprobleme wat inwoners in die ooste van die dorp ondervind.

Ermeloërs het vertel dat hulle gedurende die dag sonder water gelaat word en dat sommiges eers laat in die aande water het.

“Daar is ook altyd ‘n probleem met ons waterrekeninge. Die hoeveelheid wat op jou lesings wys en dié op jou meter stem bykans nooit ooreen nie. Dit is die meeste van die tyd baie hoër as wat die meter wys,” het ‘n inwoner wat anoniem wil bly, gesê.

Om van die een punt na die ander deur die strate van Ermelo te ry sonder om jou motor te beskadig, het ‘n vaardigheid geword. Slaggate wat by die dag groter word is ‘n daaglikse aanskouing.

In meeste strate op Ermelo werk geen straatlig nie, wat geleenthede skep vir misdadigers en inwoners maklike teikens maak.

Wesselsstraat is steeds ‘n groot kopseer vir vragmotorbestuurders wat gereeld van die pad gebruik maak.

Die toestand van die plaaslike begraafplaas het ‘n seer oog geword vir mense wat die grafte van hul geliefdes besoek.

Afgesien daarvan dat dit nie meer veilig is om die begraafplaas te besoek nie, word niks gedoen aan die gras en wat oor die grafte groei nie.

“Niks word deur die munisipaliteit gedoen om dit ‘n netjies en veiliger plek te maak nie,” het ‘n inwoner wat anoniem wil bly, gesê.

‘n Inwoner het aan die Hoëvelder vertel dat sy nie meer kans sien om haar geliefdes te besoek nie weens die mense wat gedurig op die mure om die begraafplaas sit en besoekers uitlag.

In die meeste strate van Ermelo werk die straatligte nie snags nie. Dit hou nie net gevaar in vir bestuurders wat nie die slaggate en voetgangers kan sien nie, maar verhoog ook die risiko vir inbrake.

Die Hoëvelder het navrae aan Msukaligwa Munisipaliteit gerig om duidelikheid te kry oor die beplanning om dienslewering te verbeter, maar teen druktyd is geen terugvoering ontvang nie.

Wesselstraat is bykans ontoeganklik vir motoriste met kleiner voertuie.

Related Articles

Back to top button