CrimeNews

Veediefstal tydens Kerstyd laat boere tuisbly om vee te beveilig

Verminking van diere neem toe, waar veediewe die hakskene van beeste afkap en die diere se boude en blaaie uitsny.

Veediefstal in die omgewing het die laaste ses maande toegeneem, met die grootste stygings in skaapdiefstal.

Met die feesseisoen wat voorlê, skerp boere in die omgewing hul voorkomingsmaatreëls op, terwyl meeste boere dit nie waag om weg te gaan gedurende die tyd nie.

Volgens een van die boere in die omgewing, mnr. Lion du Plessis, moet boere gereeld hulle skape tel om die reaksietyd so kort as moontlik te hou. Hy het al heelwat skape verloor deur die jare.

“Dit het ‘n reuse ekonomiese invloed op ons besigheid.

“Dit is nie net een skaap wat jy verloor nie, dit is haar wol wat sy vir nog baie jare moet produseer en natuurlik lammers wat sy vir jou moes gee in die toekoms.

“Die ekonomiese skade is dus nie net eenmalig nie, maar het ‘n groot effek op jou boerdery se toekoms,” het hy gesê.

‘n Ander boer, mnr. Jannie Myburgh, het aan die Hoëvelder vertel dat die effek wat veediefstal op ‘n skaapboerdery het, ‘n paar boere al gedwing het om van al hul skape ontslae te raak.

Dié boer het vertel dat om veediefstal te voorkom, ‘n gevaarlike taak geraak het, weens die diewe wat in sindikate werk en gewapen opdaag om vee te steel.

Hy het bygevoeg dat boere nie alleen kan reageer op alarms wat by die vee afgaan nie, maar dat hulle saam met die plaaswerkers of bure moet uitgaan om ondersoek in te stel.

Om veediefstal te beperk, val die boere die situasie met tegnologie aan, waar daar selfone aan vee geplaas word wat geskakel kan word om die reaksietyd vinniger te maak.

“Daar is ‘n klomp stelsels wat boere in plek het om veediefstal te probeer voorkom,” het hy vertel.

Volgens hom het Ermelo in die verlede die hoogste skaappopulasie landwyd gehad, maar met die toename van diefstal van skape, het die getalle gedaal en het veediewe die wol- en skaapbedryf in en om Ermelo, nek omgedraai.

Die veediewe benadeel nie net die boer nie, maar ook die vleispryse en het selfs ‘n reuse impak op werkloosheid.

Me. Cecelia Beukes, voorsitter van die veediefstal-inligtingsentrum (VIS) in die Chrissiesmeer-omgewing, meen dat om veediefstal te voorkom, moet boere op ‘n gereelde basis hulle diere tel en lyndrade moet nagaan.

Klein vee moet getatoeëer word en grootvee moet duidelik gebrandmerk word. Sy het boere aangemoedig om te verseker dat hul brandmerk ooreenstem met die brandmerk wat hulle geregistreer het, en dat alle besonderhede opgedateer is.

Verminking van diere neem ook in die laaste tyd toe, waar veediewe die hakskene van beeste afkap en die diere se boude en blaaie uitsny.

“Om op so ‘n toneel af te kom, het ‘n verwoestende en emosionele uitwerking op alle boere.”

“Die plaaslike polisiestasie se mandaat om veediefstal te voorkom, is om patrollie te ry, maar dit word bykans nooit gedoen nie,” het sy bygevoeg.

Me. Beukes doen ‘n dringende beroep op boere om hulle gesteelde vee aan te meld om te help met die inhegtenisname van die veediewe.

Sy is ook deel van ‘n effektiewe veediefstal WhatsApp-groep waar alle sektors in die veebedryf betrokke is om veediefstal in die kiem te smoor.

Op dié groepe word gesteelde vee aangemeld en so bewustheid van die gesteelde diere onder die aandag van veilings en abattoirs landwyd te bring.

‘n Waarskuwing word aan boere uitgereik om veral die komende week oplettend te wees met hulle vee, omdat die laaste veiling van die jaar Donderdag op Ermelo plaasvind.

“Raak deel van die VIS-groepe in jou omgewing om saam as ‘n gemeenskap veediefstal te voorkom,” het sy afgesluit.

Die drastiese toename in skaapdiefstal het vyf boere in die omgewing gedwing om van al hulle skape ontslae te raak. (Foto: Ansuné Neethling)

Lees ook:

[GRAPHIC CONTENT] Farmer discovers mass slaughtering of cattle in Bethal

Related Articles

Back to top button