CrimeNews

PLAASAANVAL: Bejaarde egpaar op plaas buite Ermelo aangeval

Die verdagtes het toegang tot die huis verkry deur een van die houtventsers in die huis oop te breek.

‘n Bejaarde egpaar is Dinsdag, 4 Desember omstreeks 12.30vm op hul plaas buite Ermelo oorval, vasgebind en beroof.

Mnr. Hendrik Reyneke (83) en me. Petro Reyneke (72) is deur vyf gewapende mans aangeval terwyl hulle nog geslaap het.

Me. Reyneke het aan die Hoëvelder vertel dat hulle omstreeks 11nm hulle honde hoor blaf het, maar dat die honde weg beweeg het.

“Ons moes toe al besef het dat daar fout is,” het sy gesê.

Die verdagtes het toegang tot die huis verkry deur een van die houtvensters langs die voordeur oop te breek.

Me. Reyneke het vertel dat een van die mans op haar geval het, nadat hulle die kamer ingekom het.

Sy het slegs drie weke gelede ‘n galblaasoperasie ondergaan en met die impak van die man wat op haar val het sy ‘n breuk opgedoen.

Een van me. Reyneke se ribbene is ook gebreek.

Die egpaar se hande is met ‘n belt vasgebind en mnr. Reyneke se mond is toegeplak.

Die aanvallers het toegang tot die Reyneke-egpaar se huis verkry deur die houtvensterraam oop te breek.

Die aanvallers het geld van die egpaar geeis, waarna hulle mnr. Reyneke se pensioengeld gevat het.

Een van die aanvallers was bewapen met ‘n kapmes wat ook tydens die aanval teen me. Reyneke se nek gedruk is.

“Hulle het die kapmes oor sy kop gehou en aangedring hulle soek meer geld.

Toe ek sê ek het geld in die kombuis het hulle my daarheen gesleep en ek het my pensioengeld aan hulle gegee,” het me. Reyneke vertel.

Terug in die slaapkamer van die egpaar het die aanvallers gesê dat hul nie kleingeld soek nie en het aangedring op die kluis se sleutel.

“Ons het die sleutels vir hulle gegee, maar met die terugkoms het hul gesê hulle soek die geldkluis en nie ons geweerkluis nie.”

Die egpaar is die afgelope 18 jaar al woonagtig op hulle plaas, Welgelegen op die Amersfoortpad.

Die aanvallers het ‘n selfoon, kontant, ou munte en ‘n handwapen gebuit.

Die egpaar is dankbaar dat hulle lewe, hoewel me. Reyneke in die aande sukkel om te slaap en vrees dat die aanvallers sal terugkom.

“Een van die aanvallers se laaste woorde aan ons voor hulle gevlug het, was dat ons nie te lank op die plaas moet aanbly nie,” het me. Reyneke afgesluit.

Volgens mnr. Henry Geldenhuys, Adjunk President van TLU SA en Voorsitter van die Veiligheidskomitee het dit die afgelope tyd duidelik geword dat veral plaaswerkers ook toenemend geteiken word in plaasaanvalle.

Dit is heelwaarskynlik omdat die misdadigers vermoed dat die slagoffers reeds hul jaarlikse bonusse ontvang het en dat daar gevolglik aansienlik meer kontant in besit van plaaswerkers is.

“Landbouers word aangemoedig om werkers te waarsku om nie hul bankrekeninge leeg te trek soos wat by talle wel die geval is nie,” het mnr. Geldenhuys gesê.

“Dit is belangrik dat die voordeel van ‘n jaar se harde werk nie onklaar gemaak word deur baie kontant byderhand te hou wat as lokaas vir ongure geselskap met misdadige intensies kan dien nie.”

“Terselfdertyd herinner ons landbouers en hul gesinne om nie waaksaamheid te verslap wanneer daar sosiaal saam met familie, bure en vriende verkeer word nie. Té veel lewens en ernstige beserings was in die verlede die gevolg van verslapte waaksaamheid tydens die feesseisoen,” het mnr. Geldenhuys bygelas.

Mense word ook aangemoedig om by hulle plaaslike plaaswagte en buurtwagte in te skakel.

Mnr. Hendrik Reyneke (83) en me. Petro Reyneke (72) is deur vyf gewapende mans in op hulle plaas, Welgelegen aangeval terwyl hulle nog geslaap het.

Related Articles

Back to top button