MunicipalNews

Oosstraat in Ermelo sal op 18 Desember vir die verkeer oopgemaak word ná herstel

Volgens mnr. Zwane word die pad herstel deur ‘n versterkte staal betonblad in die interseksie in te bou.

Na maande se smeek om Oosstraat te herstel, is daar lig aan die einde van dié donker tonnel vir die inwoners van die omgewing.

Vir maande het inwoners hulle ontevredenheid uitgespreek oor die toestand van die pad en die gevolge wat dit op hulle daaglikse lewens het.

“Al ons klagtes het op dowe ore geval en ons het nie meer kans gesien om die straat te gebruik nie,” het een van die inwoners gesê.

Inwoners het gekla oor die stof wat hulle op ‘n daaglikse basis moes verduur. Sommige dae was dit van so aard dat hulle dit nie kon waag om vensters oop te maak nie.

Die inwoners was bekommerd oor die veiligheidsrisiko’s wat die pad vir motoriste ingehou het.

Na vele navrae by Msukaligwa Munisipaliteit, het mnr. Mandla Zwane, woordvoerder van die munisipaliteit, gesê dat hulle ‘n kontrakteur aangestel het om die pad te rehabiliteer.

“Die konstruksie van die pad het Dinsdag, 23 Oktober begin,” het hy bygevoeg.

Volgens mnr. Zwane word die pad herstel deur ‘n versterkte staal betonblad in die kruising in te bou.

“Die beplande afhandelingsdatum van konstruksie is voorlopig Vrydag, 7 Desember. Die pad sal eers op Dinsdag, 18 Desember vir verkeer geopen word,” het mnr. Zwane afgesluit.

Lees ook:

https://highvelder.co.za/63582/oostraat-word-n-risiko-vir-motoriste/

Related Articles

Back to top button