Keagan Sonnekus is vir ’n tweede keer met breinvliesontsteking gediagnoseer

“Ons sal enige iets doen om die beste mediese sorg vir ons seuntjie te kry, om te verseker dat hy ten volle genees.”

Me. Madie en mnr. Conrad Sonnekus se seun, Keagan (nege maande), is onlangs vir die tweede keer met breinvliesontsteking gediagnoseer.

Hy is vroeër vanjaar op die ouderdom van ses maande met bakteriese breinvliesontsteking in Ermelo Provinsiale Hospitaal opgeneem waar hy behandeling ontvang het en later ontslaan is.

Sy ma het vertel dat hy mooi herstel het. Sy oë het mooi reggekom, maar sy voeg by dat hulle hom nog na ‘n hartspesialis en vir ‘n breinskandering moet neem.

Na hy verlede week met hoë koors en ‘n uitslag op sy lyfie gesukkel het, het sy ouers hom dokter toe geneem met die vermoede dat hy dalk masels het.

Klein Keagan is egter Woensdag, 28 November weer in die hospitaal opgeneem en toetse het bevestig dat hy weer breinvliesontsteking het, maar die aard daarvan kon nie dadelik bevestig word nie.

Met tye het die klein lyfie erge aanvalle beleef en het selfs ‘n paar keer opgehou asemhaal.

“Dit was vir ons ‘n verskriklike skok om te beleef hoe ons klein lyfie blou word en nie kon asem haal nie. Al wat ons kon doen, is vir hom is bid en glo hy dat hy sal herstel,” het sy ma aan die Hoëvelder vertel.

Keagan Sonnekus is onlangs vir ‘n tweede keer met breinvliesontsteking gediagnoseer. (Foto verskaf)

Dit is later bevestig dat Keagan virale breinvliesontsteking het. Hy is Vrydag, 30 November ontslaan.

Die pad na volle herstel vir Keagan is egter nog onbekend vir die ouerpaar en hulle is besig met ‘n geldinsamelingsprojek om hom by ‘n kinderarts, asook ‘n neuroloog te kry.

Hulle beskik op die stadium nie oor ‘n mediese fonds nie, maar vertel dat hulle wel in die proses is om een aan te skaf.

“Ons sal enige iets doen om die beste mediese sorg vir ons seuntjie te kry en om te verseker dat hy ten volle genees.”

Indien enige iemand die gesin kan bystaan, word hulle versoek om me. Madi Sonnekus te skakel by 076 718 2781.

Die trustrekening wat vir Keagan se mediese kostes gestig is, se besonderhede is:

Pieter Stoffberg Ingelyf Trust, trustrekening, FNB, Ermelo, takkode: 270 344, rekeningnommer 62092150326, Verwysing K. Sonnekus.

Die familie het almal bedank wat reeds bygedra het om te help om die beste mediese sorg vir klein Keagan te kry.

Keagan Sonnekus is onlangs vir ’n tweede keer met breinvliesontsteking gediagnoseer. (Foto verskaf)

Lees ook die vorige berig oor Keagen Sonnekus:

https://highvelder.co.za/68711/keagan-sonnekus-is-gediagnoseer-met-epilepsie/

Exit mobile version