MunicipalNews

Ermelo inwoners sukkel weke lank met waterprobleme

Met geen duidelike antwoorde van die munisipaliteit, voel inwoners dat hulle in die duister gelaat word.

Vir die inwoners van Ermelo is dit geen ongewone gesig om hul dae sonder water te begin nie.

Nadat die Hoëvelder weer eens oorval is met navrae oor die waterprobleem op Ermelo, het die koerant navrae by die Msukaligwa Munisipaliteit gedoen om antwoorde te kry.

Sommige inwoners het aan die Hoëvelder vertel dat hulle moeg is vir die verskonings wat hulle weekliks van die munsipaliteit kry.

“Daar is elke dag ‘n ander verskoning en ons voel dat as hulle net die gemeenskap wil inlig oor wat aangaan, kan ons immers ons dae beplan, maar tans moet ons raai wanneer het ons water en wanneer nie,” het ‘n onstelde inwoner gesê.

Volgens sommige mense is hulle gelukkig as hul teen 9nm water het en ander inwoners aan die ooste van Ermelo, het sommige aande eers na 10nm water.

Met geen duidelike antwoorde van die munisipaliteit nie, meen die dorp se mense dat hulle in die duister gelaat word.

Ander kla dat hulle waterdruk gedurende die dag so sleg is, dat hul toiletbakke nie eers gevul word nie.

Sommiges het genoem dat hulle al vir bykans agt weke met die probleem saamleef.

‘n Inwoner aan die ooste van Ermelo het vertel dat hulle krane bedags vuil modderwater uitspoeg en na 10nm stroom die skoon water weer.

“Dit laat ons wonder of die water deur die dag toegedraai word en laat in die aande weer oopgedraai word,” het die inwoner genoem.

‘n Bejaarde wat die Hoëvelder vroeg Maandagoggend, 3 Desember besoek het, het vertel dat hulle sedert Woensdag, 28 November geen water het nie.

“Ons moet water koop wat ons op die stoof moet verhit om onsself te was en ons wasgoed hoop op,” het hy vertel.

Dié inwoner oorweeg dit al om by familie te gaan kuier totdat die waterprobleem op Ermelo opgelos is en meen dat hulle nie elke dag so kan aansukkel nie.

Die Hoëvelder het navraag by mnr. Mandla Zwane van die Msukaligwa Munisipaliteit gedoen oor die waterprobleme wat inwoners tans beleef en hy het genoem dat daar verskeie redes is waarom die water ‘n probleem kan wees.

Hy het die strate aangevra wat waterprobleme ondervind om ondersoek in te stel.

Mnr. Zwane het mense ook aangemoedig om van die nuwe platform op sosiale media gebruik te maak vir toepaslike kwessies van dienslewering.

Inwoners kan die munisipale Facebook-bladsy besoek by “Msukaligwa Local Municipality“, hul Twitter-blad is @MsukaligwaLM en inwoners kan ook WhatsApp-boodskappe, video’s, foto’s en stemnotas stuur na 079 503 6729.

Lees ook:

https://highvelder.co.za/72269/msukaligwa-municipality-closes-communication-gap-community-joins-social-media/

Related Articles

Back to top button