Mekayla Steenkamp (4) laat haar deur niks onderkry nie

“Ons dank die Here vir Sy hand en uitkoms wat hy gegee het, en ons bedank ook almal wat ons finansieël, in gebed en fisies ondersteun en gedra het.”

Mekayla Steenkamp is ‘n vierjarige blou-oog blondekop dogtertjie van Ermelo wie se lewe vol wonderwerke vergelyk word met die van die outydse Russiese poppies wat een vir een uitmekaar skuif.

Mekayla is reeds voor haar geboorte met hidrokefalis gediagnoseer.

Hidrokefalis is ‘n toestand waar die natuurlike vog in en rondom die brein nie deur die normale bane gedreineer kan word nie weens verskillende redes.

‘n Dreineringspypie is op die ouderdom van sowat vyf maande ingeplaas om die vog vanaf Mekayla se brein na haar buikholte te dreineer waar dit deur die liggaam se normale meganismes verwyder en uitgeskei word.

“Sou die vog nie gedreineer word nie, kan dit erge drukking op die brein veroorsaak met nagevolge en selfs die dood.” het Mekayla se ma, me. Anja Steenkamp vertel.

As gevolg van die drukking op haar brein, is daar ‘n verskeidenheid komplikasies wat kan volg soos mylpale wat teen ‘n stadiger tempo gehaal word, maar Mekayla word beskryf as ‘n lewende wonderwerkie wat elke mylpaal teen die regte tempo behaal het.

“Ons as ouers werk wel saam met ‘n oogspesialis om spiertjies in Mekayla se oë te oefen en te versterk. Mekayla staan vir niks terug nie, sy het veggees wat skrik vir niks,” het haar ma bygevoeg.

Mekayla Steenkamp, is ’n vierjarige blou-oog blondekop dogtertjie van Ermelo met ’n liefde vir diere en laat haar deur niks onderkry nie. (Foto verskaf)

Haar ma beskryf haar as ‘n borrelende porseleinfyn dogtertjie, wat jy waarskynlik iewers naby diere sal kry omdat die sagte kind ‘n baie spesiale plekkie vir diere het.

Mekayla se lewe het Saterdag, 13 Oktober ‘n wipwa-rit vir die ergste geneem, toe sy skielik begin kla het van haar maag wat seer is en sy haar eetlus verloor het.

Met haar eerste besoek aan die dokter is sy gediagnoseer met sekondere mangelontsteking, wat haar ma vertel het die groter probleem aangewakker het.

Na sy medikasie ontvang het, het sy verbeter maar gou daarna weer siek begin raak.

Met haar opvolg besoek aan die dokter word daar gevind dat sy longinfeksie en nierinfeksie het, waarna sy weer medikasie ontvang het en gou beterskap getoon het.

Nadat sy vir ‘n derde keer weer siek geraak het en begin kla het oor maagpyn en haar nek wat styf en seer is met tye, het die dokter aanbeveel dat daar x-trale geneem word.

Bloedtoetse is ook gedoen waarna die dokter ‘n hoë bakteriese infeksietelling opgetel het, waarna sy weer met die hulp van medikasie beterskap getoon het.

Mekayla Steenkamp glimlag steeds vriendelik voor haar operasie Donderdagoggend, 22 November. (Foto verskaf)

Mekayla het op Dinsdag, 16 Oktober tydens ‘n besoek aan haar ouma en oupa in Middelburg, weer begin olik voel, waarna sy na die noodgevalle-eenheid geneem is.

Toetse het bevestig dat sy steeds ‘n hoë bakteriële infeksie het en daar is met verdere toetse bevestig dat sy ‘n peritoneale gewas het.

Skanderings is van haar brein gedoen om seker te maak dat dreineringspypie nie infeksie opgedoen het nie.

“Hierna was dit ‘n emosionele en fisiese wipwa-rit vir Mekayla.”

“Sy sou sonder enige twyfel geopereer moes word en ons eerste gedagte was om terug te gaan na Steve Biko Hospitaal, maar ongelukkig het hulle nie plek gehad om Mekayla vinnig genoeg te help nie.

“Tyd was die een ding wat ons nie gehad het nie.”

Met die hulp van baie gebede en weldoeners met oop harte, het die gesin die nodige deposito gehad om die hospitaalkoste in die Life Midmed Hospitaal te dek.

Mekayla is Donderdagoggend, 22 November geopereer waartydens die gewas verwyder is en haar ma het vertel dat die dokter baie tevrede is met haar operasie.

“Ons dank die Here vir Sy hand en uitkoms wat Hy gegee het, en ons bedank ook almal wat ons finansieel, in gebed en fisies ondersteun en gedra het.”

‘n Hulpfonds is gestig by Stroh Coetzee Ingelyf om die ouers by te staan met die mediese onkoste.

Die besonderhede is: Rekeningnaam:

Mekayla Steenkamp Hulpfonds,

Standard Bank,

Rekeningnommer 033003580,

Takkode 051 001.

Skakel suster Pretorius by 013 243 1033.

Mekayla Steenkamp glimlag steeds vriendelik voor haar operasie Donderdagoggend, 22 November. (Foto verskaf)
Exit mobile version