Local newsNews

Sarita skilder met ’n liefde vir die natuur

Vir haar is die mees prikkelende deel van skilder, om ’n leë skilderdoek op haar esel te hê.

Me. Sarita Gous skilder al van kindsbeen af saam met haar ma, me. Anita Grobler, en sy besef daagliks hoe bevoorreg sy is om passie van haar te kan uitleef.

Sy het in Ermelo grootgeword en was aan Ermelo Hoërskool verbonde, maar het in haar standerd nege jaar na Kimberly verhuis.

Na skool het me. Gous aan die AAA School of Advertising studeer en na haar studies het sy vir sowat vier jaar in Londen by ’n binnehuis en grafiese ontwerper gewerk.

Sy gee al die afgelope nege jaar privaat kunsklasse vir kinders sowel as volwassenes en is ook betrokke by Ermelo Hoërskool waar sy vir die graad 11 en graad 12 leerders praktiese kunsklasse aanbied.

Me. Gous het vertel dat sy nie net die kunsleerders leer nie, maar dat sy ook baie van hulle leer.

Dit is vir haar ’n uitdaging om ander te leer skilder en dinge uit ’n ander se oogpunt te sien.

“Ek is gek daaroor om die natuur en diere te skilder. Ek glo dat die natuur jou nader aan God bring.” het me. Gous gesê.

Sy doen ook kommissies waar haar kliënte spesifieke skilderye wil hê, waar sy enige iets van hulle troeteldiere tot hulle kinders skilder.

Vir haar is die mees prikkelende deel van skilder om ’n leë skilderdoek op haar esel te hê.

“Daar is altyd ’n stuk op die doek waar dit lyk asof dit wat daar gedoen is nie gaan werk nie en om die deursettingvermoë bymekaar te maak om aan te gaan en die produk te voltooi, is soms ’n uitdagende proses.”

Sy het opgewonde vertel dat die mees vervullende oomblik in die proses om ’n skildery te voltooi, die oomblik is wanneer die kliënt die eindproduk sien en met waardering daarna kyk.

“Die kyker voltooi die sirkel van skilder. Die maak dit die moeite werd as mense die skilderye bewonder.”

Haar werk word gestuur na verskeie kunsgallerye in Pretoria waar dit uitgestal en verkoop word.

Me. Gous skilder met olieverf omdat dit baie veelsydig en van goeie gehalte is en die gehalte van haar eindproduk is vir haar baie belangrik.

Dit neem haar gewoonlik sowat twee weke om ’n skildery klaar te maak.

Volgens me. Gous neem diere haar die langste en is baie uitdagend om te voltooi, omdat diere se proporsies perfek moet wees.

“Om ’n dier te skilder, moet jy die fyner besonderhede beplan, waar met ’n landskap is dit asof die wolke en lande hulself vorm.”

Me. Sarita Gous skilder met ’n passie vir die lewe en die mense om haar. Haar werke sal tydens die Kaalvoet Kunsfees te sien wees.

Om baie gesteur te word terwyl sy met ’n skildery besig is, is vir haar ’n uitdaging en sedert sy ma geword het, is haar skildertyd maar min.

Haar ma is terselfdertyd haar grootste ondersteuner en grootste kritikus.

“Wanneer ek dink ek is klaar met ’n skildery, vat ek hom altyd eers na my ma omdat sy ’n baie goeie oog het wat foute vinnig optel.”

Haar raad vir jong kunstenaars is om oop te wees vir kritiek en hulle werk altyd na iemand te neem na wie hulle opkyk om so deur kritiek hulself te verbeter.

Me. Gous het gesê dat ’n kunstenaar ’n groot verbeelding moet hê, ’n liefde vir die lewe en die mense om hulle, asook deursettingsvermoë.

Haar groot droom is om eendag ’n solo-uitstalling van al haar werke te kan aanbied.

Me. Carin van der Merwe, hoof van die kunsdepartement by Ermelo Hoërskool, het haar betrek om ook by die Kaalvoet Kunsfees van haar werke uit te stal. Sy beoog om landskappe en diere-skilderye by die kunsfees uit te stal.

“Die kunsfees skep ’n platform vir die dorp se kunstenaars om hulle werk uit te stal.” het me. Gous afgesluit.

Me. Sarita Gous skilder met ’n passie vir die lewe en die mense om haar. Haar werke sal tydens die Kaalvoet Kunsfees te sien wees

Related Articles

Back to top button